Nuus 07:00
BULLETIN 25 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die struggle-ikoon, Albie Sachs sê Suid-Afrikaners se reg om te stem is ’n mylpaal
# OUTA eis inligting van Sanral oor kontrakte met twyfelagtige maatskappye
# En ‘n VN-verslag toon 281,6-miljoen mense is in 2023 aan hongersnood blootgestel
# Die voormalige regter van die Konstitusionele Hof en anti-apartheid-ikoon, Albie Sachs, sê Suid-Afrikaners se stemreg is ‘n groot mylpaal en sukses in die land se stryd om bevryding. Sachs het tydens die ondertekeningseremonie van die OVK se Verkiesingsgedragskode in die Wes-Kaap gepraat en die belangrikheid van die land se Grondwet beklemtoon. Hy moedig stemgeregtigde kiesers aan om hul reg uit te oefen in die komende verkiesing:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik beskuldig die Nasionale Padagentskap, Sanral, en die konstruksiebedryf se Onderwys- en Opleidingsowerheid dat hulle kontrakte met twyfelagtige maatskappye geheim hou. Die waghondorganisasie sonder winsbejag het ‘n klag by die Inligtingsreguleerder ingedien oor die instellings se weiering om inligting te verskaf oor kontrakte met AquaEXR Joint Venture en Grayson Reed. Outa se woordvoerder, Stefanie Fick, sê Sanral moet deursigtigheid en aanspreeklikheid bevorder:
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se Oos-Kaapse kantoor stel vandag sy ondersoekverslag bekend, oor sistemiese uitdagings rakende die Enyobeni Taverne-tragedie. Die ondersoek maak deel uit van die SAMRK se mandaat, wat menseregtekwessies aanspreek. Die ondersoekverslag word tussen 11 en 12 vandag vrygestel by die Chandler’s-gastehuis in Oos-Londen. Die Enyobeni-tragedie behels die dood van 21 jeugdiges wat ‘n platejoggie se verjaardagpartytjie by die taverne bygewoon het. Die omstandighede waaronder hulle gesterf het is nog onbekend.
# Equal Education en die Equal Education-regsentrum het ʼn dringende aansoek teen die Wes-Kaapse Onderwysdepartement by die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien. Die saak handel oor kinders wat nie by skole geplaas is nie. Die departement voer aan ouers en versorgers wat ná die maand lange aansoektydperk in die jaar voor plasing aansoek doen, word as laat aansoeke beskou. Die organisasies sê leerderplasing is ʼn langdurige, sistemiese kwessie waarvoor die departement nie voldoende beplan het nie.
# Meer as een uit vyf mense in 59 lande het verlede jaar ernstige voedselonsekerheid beleef teenoor slegs een uit tien in 48 lande in 2016. Dit is volgens die jongste Wêreldverslag oor Voedselkrisisse waarby verskeie agentskappe van die Verenigde Nasies betrokke was. Die direkteur van die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie, Rein Paulsen, sê gevaarlike hongersnoodvlakke het verlede jaar 281,6-miljoen mense geraak in die vyfde agtereenvolgende jaar wat voedselonsekerheid vererger:
# Tennis: Die veertien-malige Franse Ope-kampioen Rafael Nadal sê hy sal slegs by Roland Garros deelneem as hy volle vertroue het in sy vermoë om góéd mee te ding. Die Spanjaard, wat op drie Junie sy 38ste verjaardag in Parys sal vier, sukkel al meer as ‘n jaar met beserings. Hy sê as die Grand Slam-kleibaantoernooi vandag sou afskop, sou hy nie kon deelneem nie, maar hy hoop steeds om darem nog één keer daar te speel. Die toernooi begin op die 26 Mei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-218-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-321-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….