Nuus 07:00
BULLETIN 11 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-jeugliga waarsku die ANC om nie koalisie-ooreenkomste met die DA aan te gaan nie
# Die skorsing van die uitvoerende hoof van SA Toerisme kos belastingbetalers meer as ses-miljoen-rand
# En rugby: Die Springbokke se hulpafrigter, Felix Jones, verwag nuwe taktiese bewegings van Frankryk
# Die ANC-jeugliga sê die ANC moenie koalisie-ooreenkomste met die DA en ander regse partye aangaan nie. Na die plaaslikeregeringsverkiesing moet 138 rade deur koalisies bestuur word, wat byna twee keer soveel as in 2021 is. Die ANC het ná die verkiesing raadsetels in al agt van die land se metro’s verloor. Die ANC-jeugliga se president, Collen Malatji, sê die koalisie-landskap vereis ideologiese duidelikheid en ‘n goeie begrip van die politieke belange wat beskerm moet word:
# Die skorsing van die Suid-Afrikaanse Toerismehoof, Nombulelo Guliwe, het belastingbetalers meer as 6,18-miljoen-rand gekos, met haar dissiplinêre saak wat na 15 maande steeds sloer. Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê dit sluit in 3,64-miljoen-rand vir Guliwe se salaris, 1,78-miljoen-rand aan regskoste en meer as 751-duisend-rand vir ‘n tussentydse uitvoerende hoof. Die dissiplinêre verhoor is in Mei afgehandel, maar ná ‘n appèl is die saak na ‘n nuwe voorsitter verwys om ‘n voorlopige regsbeswaar te oorweeg. Die saak gaan oor ’n beweerde onreëlmatige betaling van 4,1-miljoen-rand tydens Guliwe se termyn as hoof finansiële beampte.
# Die Verkiesingskommissie het ’n herstemming in wyk drie van die Siyancuma Plaaslike Munisipaliteit in die Noord-Kaap gelas, nadat meer as 100 stembriewe vernietig is toe ’n telsentrum bestorm is. Die stemming sal op 18 November by die Bongani-gemeenskapsaal plaasvind, van sewe-uur die oggend tot nege-uur die aand. Slegs kiesers wat in die betrokke stemdistrik geregistreer is, mag stem. Spesiale stemme sal op 17 November uitgebring word, en aansoeke sluit op 14 November.
# Rand Water se uitvoerende groepshoof, Sipho Mosai, sê munisipaliteite wat die swakste presteer of nie hul skuld betaal nie, skuld saam meer as 5,6-miljard-rand. Emfuleni, Merafong City, Randwest City en Govan Mbeki is die grootste wanbetalers. Mosai sê hulle het skuldverligtingsprogramme, spesiale betalingsooreenkomste en regstreekse onderhandelings tussen finansiële hoofde aangebied. Hy voeg by dat verouderende infrastruktuur, onwettige verbindings en swak instandhouding bydra tot waterverliese. Water wat nie inkomste inbring nie is sowat 48-persent, teenoor die wêreld-gemiddeld van ongeveer 30-persent.
# Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, beskryf die Republikeinse kongreslid, Thomas Massie, se ampsklag-pogings teen hom as ʼn “klug” en “politieke spektakel”. Massie beskuldig Hegseth dat hy onwettig en sonder die Kongres se toestemming oorlog teen Iran maak, en die mag van sy amp misbruik. Die poging sal waarskynlik misluk, aangesien die Republikeine tot Januarie in beheer van die Kongres bly. Hegseth sê geen vorige ministers van Verdediging is in ʼn staat van beskuldiging geplaas omdat hulle “wettige militêre operasies” uitgevoer het nie:
# Rugby: Die Springbok-hulpafrigter Felix Jones sê hulle verwag ʼn onvoorspelbare, nuwe taktiese element van Frankryk in Vrydagaand se Nasieskampioenskap-kragmeting op die Stade de France. Ná Suid-Afrika se naelskraapse oorwinning in die 2023 Wêreldbeker-kwarteindronde en ʼn 32-17-oorwinning op dieselfde stadion verlede jaar, erken Jones dat Les Bleus waarskynlik wil wraak neem. Hy voeg egter by dat hulle gereed is vir ʼn intense, fisiese stryd op die veld:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-732-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-47-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….