Nuus 07:00
BULLETIN 20 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, bied die 10de sitting aan van die Gesamentlike Kommissie vir Samewerking
# Rugby: ‘n Swakker maar geesdriftige Haaie-span verloor hulle VRK-kragmeting teen Glasgow
# En, motoriste word gewaarsku oor die sluiting van die R21 in Gauteng dié naweek vir instandhoudingswerk deur Eskom
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, was medevoorsitter van die tiende sitting in Pretoria, van die Gesamentlike Kommissie vir Samewerking. Sy het die voorsitterskap gedeel met die Egiptiese minister van Buitelandse Sake, Sameh Shoukry. Pandor het die diep-gewortelde diplomatieke, politieke, ekonomiese en maatskaplike bande tussen die twee nasies beklemtoon. Sy sê die sitting het besprekings oor wedersydse belange bevorder, insluitend die implementering van die Afrika-kontinentale vryhandelsooreenkoms, en die ondertekening van ‘n Memorandum van Verstandhouding oor Regsamewerking:
# Die minister van Verdediging en Militêre veterane, Thandi Modise, hersien ‘n versoek van haar voorganger en voormalige lid van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, vir regshulp in ‘n korrupsiesaak. Die ministerie het onthul die Hoof van Regsdienste van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Eric Mnisi, het die versoek sonder behoorlike goedkeuring hanteer. Mapisa-Nqakula word aangekla omdat sy na bewering meer as twee-miljoen-rand omkoopgeld ontvang het tydens haar ampstermyn as die minister van Verdediging. Die woordvoerder, Amos Phago, sê Modise het ‘n ondersoek na die saak begin om openbare fondse te beskerm:
# Namibië se regerende Swapo-party het gister 64 jaar gevier sedert sy stigting op 19 April 1960, met een oog op die komende nasionale verkiesing. Die Namibiese nuusagentskap Nampa berig Swapo se adjunkpresident Netumbo Nandi-Ndaitwah het partylede gevra vir eenheid terwyl hulle voorberei vir die stemmery. Nandi-Ndaitwah, Swapo se presidensiële kandidaat, sê die party se wortels lê in die stryd van die Namibiese mense. Met die onlangse ontdekking van olie en gas, sê sy die regerende party is toegewy om die volhoubare gebruik van Namibië se natuurbronne te verseker.
# Rugby: Glasgow Warriors was gisteraand die wenners met 21-10 teen die Haaie in hulle Verenigde Rugby-kampioenskap-kragmeting in Skotland. News24 berig die tuisspan het drie drieë gedruk, teenoor twee deur die besoekers. Die Haaie, wat ‘n swakker span gekies het vir die wedstryd, het met ‘n geesdrif gespeel wat hulle goed te staan sal kom in hulle Uitdaagbeker-halfeindstryd oor twee weke teen Clermont.
#En, laastens: Motoriste word gewaarsku oor die sluiting van die R21 in Gauteng in beide die suidelike en noordelike rigtings hierdie naweek vanaf Nelmapiusrylaan tot by Olifantsfontein. Eskom sal noodsaaklike instandhoudingswerk doen, nuwe oorhoofse transmissiekraglyne installeer sowel as ‘n geleier wat elektrisiteit aan die gebied verskaf. Die tye wanneer die pad gesluit sal wees is vanoggend vanaf 6-uur tot 6-uur vanaand en môre-oggend vanaf 6-uur tot 12-uur môremiddag. Motoriste sal herlei word via die M57-ompad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….