Nuus 07:00
BULLETIN 18 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Unisa ondersoek meer as 1 400 gevalle van akademiese oneerlikheid
# Netanyahu sê Israel sal sy eie besluite neem oor hoe om Iran aan te val
# En krieket: Die Sri Lanka-vroue stuit die Proteas met ‘n rekord-lopiepoging
# Die Universiteit van Suid-Afrika sê hy ondersoek meer as een-duisend-400 gevalle van akademiese oneerlikheid, insluitend plagiaat. Studente was ontevrede oor die doeltreffendheid van programme soos die opsiener-toepassing, Invigilator App, wat tydens aanlyn eksamens gebruik word. Die universiteit se visehoof vir Institusionele Ontwikkeling, Ramagoai Magano, sê hulle neem bewerings ernstig op dat die waarnemende hoof- finansiële beampte, Reshma Mathura, omkoopgeld van studente geëis en ontvang het:
# ‘n Politieke ontleder waarsku die DA kan Moslemondersteuning verloor weens die indruk dat hy Israel steun. André Duvenhage van die Universiteit van Noordwes sê Moslems was ontsteld oor die leier John Steenhuisen se opmerking dat een mens se volksmoord ‘n ander se vryheid is. Duvenhage sê daar was selfs beroepe vir ‘n fatwa om mense te verbied om vir die DA te stem. Hy wys ook daarop dat die DA Ghaleb Cachalia as ‘n lid van sy skadukabinet ontslaan het oor ‘n twiet oor die Midde-Oosterse konflik.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, het die dood van ‘n polisiebeampte in Atlantis veroordeel. Die 44-jarige sersant en nog ʼn beampte het op ʼn klag van huishoudelike geweld gereageer toe die verdagte tydens ʼn onderonsie die oorledene se dienspistool gryp en hom doodskiet. Reagen sê hy is ontsteld oor die sinnelose daad:
# Die hoof van die DA se Emfuleni-Noord-wyk, Kingsol Chabalala, kritiseer die plaaslike munisipaliteit vir die besteding van meer as 20-miljoen-rand op 19 geskorste amptenare. Dit is onthul deur die Gautengse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Mzi Khumalo. Chabalala sê een werknemer, geskors vir vier jaar en agt maande, is meer as drie-miljoen-rand betaal. Hy sê die onvermoë om die 19 sake op te los, wat teruggaan tot 2019, is onaanvaarbaar. Chabalala het die finansiële druk op belastingsbetalers beklemtoon asook die behoefte om dienslewering eerste te stel.
# Die Israelse premier, Benjamin Netanyahu sê sy land sal sy eie besluite neem oor hoe om te reageer op Iran se ongekende lugaanval verlede naweek. Hy het gister in Jerusalem met die Britse minister van Buitelandse Sake, David Cameron vergader. Daar is kommer dat Israel se vergelding die streek in ‘n volskaalse oorlog kan dompel. Cameron sê hy hoop Israel se optrede is beperk en geteiken. Netanyahu sê sy regering sal alles doen wat nodig is om homself te verdedig.
# Krieket: Sri Lanka het die hoogste lopietelling in vroue se internasionale eendagwedstryde ingehaal en Suid-Afrika met ses paaltjies afgeransel in die derde en laaste eendagwedstryd in Potchefstroom. Kaptein Laura Wolvaardt het ʼn onoorwonne 184 gemoker wat die hoogste eendag-telling ooit vir ʼn Suid-Afrikaanse vrou is. In antwoord op die Proteas se 301 vir vyf het kaptein Chamari Athapaththu ʼn onoorwonne 195 behaal wat die derde hoogste individuele telling in vroue-eendagkrieket is. Die besoekers het die teiken bereik en die reeks gelykop laat eindig met een elk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-499-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-371-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….