Nuus 07:00
BULLETIN 16 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n Politieke ontleder sê die Konstitusionele Hof moet die Verkiesingskommissie se appèl oor Zuma dringend aanhoor
# Die ACDP vra vir wêreldwye gebed vir vrede in die Midde-Ooste
# En tennis: Nadal wil elke oomblik geniet van wat waarskynlik sy laaste jaar sal wees
# Die politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela, sê die geskil tussen die Verkiesingskommissie en oudpresident Jacob Zuma moet met ondubbelsinnige regsekerheid afgehandel word. Die OVK het die Konstitusionele Hof genader om te appelleer teen die Verkiesingshof se besluit dat Zuma in volgende maand se verkiesing as parlementêre kandidaat mag staan. Die OVK voer aan Zuma kan nie as kandidaat staan nie omdat hy tot 15 maande tronkstraf gevonnis was. Mkhabela sê in ‘n artikel in News24 die Konstitusionele Hof móét die saak dringend aanhoor.
# Die DA veroordeel president Cyril Ramaphosa se besluit om die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, te behou te midde van korrupsie-bewerings. Hulle voer aan Nzimande se volgehoue teenwoordigheid maak die taak van die nuwe administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Freeman Nomvalo, nog moeiliker. Die party is bekommerd oor Nomvalo se aanstelling en glo hy moet verskeie uitstaande kwessies aanspreek om die skema se geloofwaardigheid te herstel. Die DA-lid, Chantel King, doen ‘n beroep op Ramaphosa om teen korrupsie op te tree:
# RISE Mzansi het beloof om binne vyf jaar 600-duisend nuwe, permanente werksgeleenthede in Gauteng te skep as hy die verkiesing op die 29ste van volgende maand wen. Die party se provinsiale premierskandidaat, Vuyiswa Ramokgopa, het RISE Mzansi se plan vir Gauteng gister op Beyers Naude-plein in Johannesburg bekendgestel. Sy sê Gauteng is ʼn skaduwee van die provinsie wat voorheen om elke hoek en draai ʼn ekonomiese geleentheid gehad het. Ramokgopa het beloof om die provinsie ʼn plek te maak waar meriete, aanspreeklikheid en deursigtigheid tel.
# Action Society sê hy het gemengde gevoelens na die dood van die moordbeskuldigde, Werner de Jager. Die Departement van Korrektiewe Dienste het bevestig hy is gister in die hospitaal dood. De Jager is aangekla van die moord op sy vrou, dominee Liezel de Jager van Amanzimtoti, wat in Oktober 2021 vermoor is. Action Society se woordvoerder, Juanita du Preez, sê hulle sal voortgaan met die saak nadat hulle die nasionale eenheid vir onopgeloste sake genader het om dit oor te neem:
# Die ACDP het hom aangesluit by die Groep van Sewe-leiers in die veroordeling van Iran vir die afvuur van nagenoeg 300 hommeltuie en missiele op Israel. Die party is bekommerd Iran se optrede kan konflik laat toeneem, nie net in die streek nie, maar wêreldwyd. Hulle loof die Europese Unie en Brittanje vir die veroordeling van Iran se aanval en bevestig hulle toewyding aan Israel se sekuriteit, terwyl hulle alle lande aanmoedig om vredemakers te wees om wyer konflik te keer. Die ACDP vra gebede vir vrede in die Midde-Ooste, Jerusalem, en gemeenskappe wêreldwyd.
# Tennis: Die 22-malige Grand Slam-kampioen Rafael Nadal sê hy wil elke oomblik geniet van die jaar, wat hy verwag sy laaste sal wees. Hy speel vandag in die eerste ronde van die Barcelona-ope teen die Italianer Flavio Cobolli. Nadal, wat in Junie 38 word, sukkel al meer as ‘n jaar lank met sy fiksheid en het laas ‘n kleibaanwedstryd gespeel toe hy die Franse Open in 2002 die 14de keer gewen het. Hy sê hy het nog glad nie ‘n spertyd gestel vir sy uittrede nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-924-dollar-28-sent. Die prys van goud is twee-duisend-381-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….