Nuus 07:00
BULLETIN 15 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nzimande sê die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het versuim om sy verantwoordelikhede uit te voer
# Die IVP-leier pleit by Gautengers om vir ‘n nuwe regering te stem
# En gholf: Scottie Scheffler wen die Meesters vir ‘n tweede keer
# Die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, sê die besluit om die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente te ontbind, is geneem weens sy onvermoë om van sy basiese verantwoordelikhede na te kom. Die minister het verlede Donderdag die raad ontbind en die skema onder administrasie geplaas. Nzimande sê die besluit is nie ligtelik geneem nie en hy het die moontlike gevolge in gedagte gehou. Dit sluit die uitwerking op studente en werknemers in:
Nzimande sê intussen die administrateur van die skema sal die beheer, bestuur en administrasie van die skema vir 12 maande oorneem. Die voormalige uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters, Freeman Nomvalo, is as administrateur aangestel nadat die raad verlede week ontbind en die skema onder administrasie geplaas is. Nzimande sê die administrateur sal die skema se werking verbeter:
# Die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa het by Gautengse inwoners gepleit om in volgende maand se verkiesing te stem en gesê die grootste bedreiging vir demokrasie is mense wat nie stem nie. Hy het gister die party se provinsiale manifes in Germiston, Ekurhuleni, bekendgestel. Volgens die Gautengse kiesersamestelling met die oog op 29 Mei, verteenwoordig dié provinsie steeds die grootste stemblok met 6,5-miljoen kiesers. Hlabisa sê Gauteng het ‘n nuwe regering nodig want dis tyd om van die diewe, korruptes en kaders ontslae te raak.
# Die DA-leier in die Wes-Kaap, Tertuis Simmers, en Kaapstad se burgemeester Geordin Hill-Lewis, lei vandag ‘n betoging buite die SASSA-kantoor in Gugulethu. Die DA sê die betoging wil aandag vestig op die stygende lewenskoste in die land wat veral kwesbare gemeenskappe raak wat op maatskaplike toelaes staatmaak. Simmers sê die koste van noodsaaklike goedere en dienste styg steeds en die nasionale regering moet hierdie probleme aanspreek om alle inwoners se welstand te verseker.
# President Cyril Ramaphosa bring vandag en môre ʼn werksbesoek aan Uganda waar hy president Yoweri Museveni sal ontmoet. Die Presidensie sê die leiers sal streeksekerheid en -stabiliteit bespreek, asook die situasie in die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Ramaphosa sal daarna na Suid-Soedan reis om bestaande bilaterale betrekkinge tussen die twee lande te versterk. President Salva Kiir Mayardit sal hom ook inlig oor vordering met die instelling van die Hernude Ooreenkoms vir die Oplossing van Konflik in Soedan.
# Gholf: Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, het die Augusta National-meesters die tweede keer in drie jaar gewen. Die 27-jarige Amerikaner het in die laaste ronde vier onder 68 geslaan om op 11 onder met vier houe voor sy naaste teenstander te eindig. Hy is die vierde jongste speler wat die Meesters verskeie kere kon wen. Die Major-nuweling, Ludvig Aberg van Swede, het 69 behaal en as naaswenner klaargemaak. Tommy Fleetwood van Engeland deel die derde plek met die Amerikaners Max Homa en Collin Morikawa. Scheffler sê sy oorwinning is spesiaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-213-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-358-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….