Nuus 07:00
BULLETIN 13 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Organisasie hou veldtog om kiesers te bemagtig
# Netanyahu vergader met Israel se oorlogkabinet
# En, padwedlope: Duisende atlete val Kaapstad binne vir die Twee Oseane-marathon
# Die organisasie sonder winsmotief, Futurelect, bied leierskap-ontwikkelingsprogramme aan vir jongmense en vroue wat ‘n amp wil beklee. Futurelect se uitvoerende hoof en die voormalige DA-parlementslid, Lindiwe Mazibuko, sê hulle doel is ook om inligting aan kiesers te verskaf voor die algemene verkiesing volgende maand. Mazibuko beklemtoon hoe belangrik dit is om burgers toe te rus met kennis en vaardighede om op sinvolle wyse betrokke te raak by ‘n demokratiese proses:
# Die Vryheidsfront Plus sê die aantal onopgeloste kriminele sake in die land is ‘n duidelike teken van die agteruitgang van die speurdienste. Die minister van Polisie Bheki Cele het in die Parlement onthul meer as 2,5-miljoen sake uit die 2020/2021- en 2022/2023-boekjare bly onopgelos, wat 42-persent is van aangemelde misdade. Cele gee onvoldoende bewyse die skuld, maar die VF Plus-leier Pieter Groenewald sê die hele kriminele regstelsel het ineengestort onder die ANC-regering:
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte meen sy vennootskap met die Rwandese Voedsel- en Dwelm-owerheid sal toegang tot veilige, doeltreffende gehalte- gesondheidsprodukte in albei lande verseker. Dié samewerking, kragtens ‘n memorandum van verstandhouding, behels gesamentlike oorsig en inspeksies, met ‘n fokus op die verbetering van regulatoriese toesig, veral op die gebied van mRNA-entstofproduksie. SAHPRA se bestuurshoof, Boi-tumelo Semete-Makokotlela, sê regulatoriese agentskappe in Afrika wat saamwerk, versterk kapasiteit om algemene uitdagings aan te spreek en openbare gesondheid te bevorder.
# Die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu sal na verwagting senior amptenare van sy oorlogskabinet ontmoet om voor te berei op ‘n moontlike aanval deur Iran. Dit sluit in die minister van Verdediging, Yoav Gallant en die opposisie-figuur Benny Gantz. Spanning loop hoog oor die moontlikheid dat Teheran kan terugslaan in antwoord op ‘n lugaanval byna twee weke gelede waarin senior Iranese bevelvoerders gedood is. Amerikaanse amptenare het aan CBS News gesê ‘n ‘uitdagende’ groot aanval op Israel is dalk binnekort ‘n moontlikheid. Israel het gesê hy is slaggereed.
# En, padwedlope: Sowat elf-duisend atlete is vandag te siene op roetes om die Kaapse Skiereiland waar hulle in die pad val in wat bekend staan as die wêreld se mees natuurskone marathon. Onder hulle is die gunstelinge vir vandag se ultra-marathon oor 56-kilometer, Stephen Mokoka en Gerda Steyn. Die 39-jarige Mokoka maak sy debuut by die wedloop terwyl Steyn haar vyfde agtereenvolgende Twee-Oseane-titel jaag. Môre word die 21-kilometer halfmarathon gehou waaraan sowat 16-duisend hardlopers gaan deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….