Nuus 07:00
BULLETIN 30 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die BOSA-leier sê Suid-Afrika het nuwe visie onder nuwe politieke leierskap nodig
# AfriForum vra die waarnemende Polisieminister om daadwerklik op te tree teen plaasaanvalle
# En, Suid-Afrika kies Durban as voorkeur-gasheerstad vir sy Olimpiese Spele-bod
# Build One South Africa se leier, Mmusi Maimane, kritiseer boodskappe dat stemme vir nuwer politieke partye vermorste stemme is, en sê die land het ‘n nuwe visie onder ʼn nuwe politieke leierskap nodig. BOSA het sy laaste saamtrek gister in Finetown, Johannesburg, gehou voor sy eerste plaaslikeregeringsverkiesing. Maimane bepleit ʼn nuwe benadering tot plaaslike regering wat voorkeur gee aan dienslewering, bekostigbaarheid, veiligheid en ekonomiese geleentheid. Hy sê etiese politieke leierskap moet die vertrekpunt wees om munisipaliteite reg te ruk:
# AfriForum doen ‘n beroep op die regering om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar en ‘n nasionale strategie in te stel om dit te voorkom. Die beroep volg op Woensdag se aanval op die Noordwes-boer Donovan Marx, wat op wrede wyse aangerand is. Jacques Broodryk van die organisasie sê die owerhede moet misdaadvoorkoming versterk en moet verseker diegene wat daarvoor verantwoordelik is, moet voor die gereg gebring word. Broodryk doen ‘n beroep op die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, om die veiligheid van boere en landelike gemeenskappe te verbeter:
# Die minister van Menslike Nedersettings, Thembi Simelane, sê die regering maak vordering met die verskaffing van waardige behuising, bring gemeenskappe nader aan ekonomiese geleenthede en noodsaaklike dienste, en hanteer ruimtelike ongelykheid. Sedert die begin van demokrasie het die regering meer as vyf-miljoen behuisingsgeleenthede geskep. Huishoudings in formele woonplekke het toegeneem van 65-persent in 1996 tot meer as 88-persent in 2022. Simelane sê die regering is ook verbind om modderhuise uit te skakel, met die huidige finansiële teiken van byna sewe-duisend modderhuise reg oor die land.
# ActionSA sê sy standpunt is bevestig nadat Tshwane se finansiële hoof, Gareth Mnisi, gister Tshwane-huis saam met amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens verlaat het. Lasbriewe is vroeër uitgereik om sy kantoor en huis te deursoek. Michael Beaumont van die party sê Mnisi het met slegs ’n ligte teregwysing teruggekeer werk toe nadat getuienis teen hom by die Madlanga-kommissie voorgelê is. Beaumont het bygevoeg enige nuwe bewyse uit die Inkomstediens-ondersoek gee die stad rede om nuwe dissiplinêre stappe te begin.
# Veertien mense is gister dood en tien ander gewond in ʼn Russiese hommeltuig-aanval op die hoof-treinstasie in die sentrale Oekraïnse stad, Dnipro. ʼn Straal-aangedrewe hommeltuig het die stasie getref terwyl ʼn trein, wat na Zaporizhzhia sou vertrek, by ʼn platform gestaan het. Dis die jongste in ʼn reeks Russiese aanvalle op vervoer- en energie-infrastruktuur in Kiëf. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê hierdie is doelbewuste aanvalle op burgerlikes en is uiters wreed. Hy het weer gevra vir nog Amerikaanse, Europese en G7-sanksies teen Moskou.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het Durban aangewys as die voorkeur-gasheerstad vir sy bod om die Olimpiese en Paralimpiese Spele in 2036 of 2040 aan te bied. Die regering ondersteun die bod nadat die Kabinet dit goedgekeur het. Johannesburg en Kaapstad is ook as moontlike kandidaat-stede oorweeg. Sewe lande het belangstelling uitgespreek om die 2036 Olimpiese Spele aan te bied. Die komitee se waarnemende president, Lwandile Simelane, sê onderhandelings oor die Spele se begroting sal plaasvind terwyl die bod-prosesse deur die verskillende stadiums gaan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-34-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-3-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 117-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….