Nuus 07:00
BULLETIN 11 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Freedom Under Law wil die volledige redes hê vir die Verkiesingshof se besluit oor Zuma
# Die Europese Parlement keur groot hervormings aan migrasiereëls goed
# En Olimpiese Spele: Die swem-afdeling van die driekamp kan gekanselleer word weens die Seine se swak watergehalte
# Freedom Under Law vra die Verkiesingshof moet redes verskaf vir sy beslissing ten gunste van die uMkhonto weSizwe Party en oudpresident Jacob Zuma. Die hof het Dinsdag die Verkiesingskommissie se besluit om Zuma te verbied om die verkiesing te betwis, verwerp. Die kommissie het aangevoer Zuma kan nie ’n kandidaat wees nie omdat hy 15 maande tronkstraf opgelê is weens minagting van die hof. Judith February van Freedom Under Law sê hulle begryp die behoefte aan ‘n dringende besluit:
# Die Parlementêre Komitee oor Magte en Voorregte het besluit om die ondersoek na die gewese speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula se rol in die parlementêre sekretaris, Xolile George, se salarisverhoging in 2022, te staak. Die DA sê die komitee moet Mapisa-Nqakula ondersoek nadat George se salaris kort na sy aanstelling van 2,6-miljoen-rand tot 4,4-miljoen-rand verhoog is. Die komitee sê Mapisa-Nqakula het bedank, daarom het hy nie meer jurisdiksie oor haar nie. Die DA hou vol daar is prima facie-redes om voort te gaan aangesien die salariskwessie steeds onopgelos is.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die regering erken nie sy tekortkominge wat e-tol betref nie. Die e-tolstelsel word om middernag amptelik geskrap nadat dit in 2013 ingestel is as deel van die Gautengse snelweg-verbeteringsprojek. Motoriste sal egter steeds uitstaande e-tolrekeninge moet betaal. Outa se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê dis duidelik dat die instelling van die e-tolstelsel sinneloos was:
# President Cyril Ramaphosa sal vandag saam met sy eweknie van Botswana, Mokgweetsi Masisi, die plek in Limpopo besoek waar die tragiese busongeluk gebeur het wat die lewens geëis het van 45 burgers van Botswana. Dit het op 28 Maart gebeur, toe ‘n bus met Paaspelgrims na Moria van ‘n brug in die Mmamatlakala-pas afgestort het. Net ‘n agt-jarige het oorleef. Die besoek sal begin met ‘n geslote inligtingsessie in Mokopane voor die presidente die ongelukstoneel op die R518 sal inspekteer. President Ramaphosa het sy medelye met Botswana betuig.
# Die Europese Parlement het die hervorming van reëls vir asielsoekers en migrasie in die Europese Unie goedgekeur. Volgens die unie se Asiel- en Migrasie-ooreenkoms moet die EU se 27 lande duisende migrante van frontlinie-lande soos Italië, Griekeland en Spanje aanvaar, of ekstra befondsing of hulpbronne verskaf. Verlede jaar het sowat 380-duisend mense die EU se grense onwettig oorgesteek wat die hoogste syfer sedert 2016 is. Die Europese Parlement se president, Roberta Metsola, sê geskiedenis is gemaak:
# Olimpiese Spele: Die organiseerders van die Spele in Parys sal dalk gedwing word om die swemskof van die driekamp by die Spele te kanselleer indien die watergehalte van die Seine-rivier nie verbeter nie. Kommerwekkende vlakke van die E.coli-bakterie is in onlangse toetse waargeneem en daar is ‘n moontlikheid dat somerreёn die toestand kan vererger. Die president van die Spele, Tony Estanguet, sê gebeurlikheidsplanne is in plek, insluitende om die item tot ‘n later datum in die Spele uit te stel. Die Spele begin op 26 Julie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-880-dollar-55-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….