Nuus 07:00
BULLETIN 29 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van die Verkiesingskommissie vra politieke partye en kandidate om nie die verkiesingsproses te ondermyn nie
# Solidariteit vra vir ’n strategiese vennoot nadat SAL se salarisse weer agterstallig raak
# En rugby: Rassie verwag ’n taai uitdaging volgende maand in Europa
# Die Verkiesingskommissie se voorsitter, Mosotho Moepya, waarsku politieke partye en kandidate om nie toe te laat dat politieke mededinging in permanente vyandskap ontaard nie. Daar neem vanjaar 546 politieke partye aan die plaaslikeregeringsverkiesing deel met 29,2-miljoen Suid-Afrikaners as kiesers en 2,6-miljoen as spesiale stemme geregistreer. Moepya sê geesdriftige politieke mededinging is ‘n basiese deel van demokrasie, maar mense moenie die wettigheid van politieke teenstanders of openbare vertroue in die verkiesingsproses ondermyn nie:
Moepya sê verder die stem-tellery sal onmiddellik begin nadat stembusse Woensdagaand gesluit het en voeg by dat deursigtigheid een van die belangrikste faktore van regverdige verkiesings is. Meer as 23-duisend stemlokale sal reg oor Suid-Afrika gebruik word. Die OVK het sy nasionale uitslagsentrum in Midrand, Gauteng, gereed verklaar. Moepya sê alle stemme sal getel word waar gestem is, en geen stembriewe sal buite stemlokale geneem word nie:
# Die vakbond Solidariteit sê Suid-Afrikaanse Lugdiens en sy tegniese afdeling, Suid-Afrikaanse Lugdiens Tegnies, het weereens versuim om salarisse betyds te betaal. Die vakbond het ook kommer uitgespreek oor onbetaalde oortyd en ander toelaes by SAAT. Derek Mans van Solidariteit sê werknemers moenie onder die redery se finansiële probleme ly nie. Mans sê die redery het ‘n langtermynoplossing nodig, in plaas daarvan om op regeringsteun staat te maak elke keer wanneer dit nog ‘n finansiële krisis ondervind:
# Die Gautengse Hooggeregshof het die volle hofsitting oor die aanhouding van asielsoekers tot volgende maand uitgestel. Dit hou verband met 33 dringende aansoeke oor die aanhouding van ongedokumenteerde buitelanders wat aangedui het hulle wil aansoek doen vir asiel. Die aansoekers eis duidelikheid oor die wettigheid van hul aanhouding. Die hoofregter se kantoor sê die uitstel is nodig weens die omvangryke uitbreiding van die prosedure sedert dit op die rol geplaas is. Die verhoor sal nou van 16 tot 18 November plaasvind.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus is opgewonde oor die vooruitsig om teen Italië, Frankryk en Ierland te speel tydens volgende maand se Nasieskampioenskap-toer. Hy sê elkeen van die spanne hou verskillende bedreigings in en sal Suid-Afrika op uiteenlopende maniere ‘n uitdaging bied en aangesien dit nou deel van ‘n kompetisie vorm, sal hierdie wedstryde verdere aansporing bied. Suid-Afrika het al drie toetse in die kampioenskap se eerste fase gewen, maar Erasmus waarsku dit is ‘n intense kompetisie en dit sal noodsaaklik wees om dadelik op volspoed te speel.
# Die Amerikaanse burgerregte-leier en arbeid-organiseerder, Dolores Huerta, is op 96 oorlede. Sy was in die 1960’s medestigter van United Farm Workers wat hulle beywer het om trekarbeiders se lewens te verander. Haar Spaanse slagspreuk “Sí, se puede!” wat beteken “Ja, dit kan gedoen word”, was gebaseer op die gedagte dat mense verandering kan meebring. Haar dekades lange werk het haar talle toekennings besorg, onder meer die Presidensiële Medalje van Vryheid in 2012. Die organisasie sê Huerta se lewensdoel was om haar gemeenskap te bemagtig en ongeregtighede te oorkom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-60-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-934-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-51-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 115-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….