Nuus 07:00
BULLETIN 13 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA stel maatreëls op om Suid-Afrika se fiskale krisis te pak
# COSATU verwelkom Steenhuisen se besluit dat Cabanac moet bedank
# En die wêreld se eerste kommersiële ruimtewandeling is ‘n reusesukses
# Ons het pas verneem die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan is op 75-jarige ouderdom in die hospitaal oorlede – meer besonderhede volg in ons volgende bulletin.
# Die DA het dringende maatreëls voorgestel om die fiskale krisis aan te spreek, onder meer die besnoeiing van regeringsbesteding en die hervorming van staatsondernemings. Die party vra ‘n volledige hersiening van besteding, die omskakeling van maatskaplike noodverligtingstoelaes in ‘n permanente werksoekerstoelaag, en die vermindering van staatsdienslone. In sy toespraak voor die Kaapstad Persklub het die DA-leier John Steenhuisen die herstrukturering van hawens voorgestel asook die gebruik van ‘n Wêreldbank-regulatoriese impak beoordeling om ekonomiese vertroue ‘n hupstoot te gee:
# President Cyril Ramaphosa sê die Siyahlola-program is daarop gemik om toesig te hou oor infrastruktuurherstelprojekte. Ramaphosa het tydens die Nasionale Raad van Provinsies gepraat en sê die program sal die nasionale infrastruktuurplan vir 2050 lei. Dit sluit terreinbesoeke in om projekvordering en die implementering daarvan te meet. Hy sê die projek sal hopelik projekvertragings uitskakel, om beter infrastruktuurontwikkeling verseker:
# COSATU verwelkom die minister van Landbou, John Steenhuisen, se besluit om Roman Cabanac na openbare misnoeë as Personeelhoof te vervang. Die vakbond kritiseer Cabanac se gebrek aan ondervinding in regering en die landbou en verwys na sy omstrede sosialemedia-geskiedenis. Die vakbond is verbaas oor die vertraging met Steenhuisen se besluit maar vertrou dit is ‘n stap tot beter aanstellings, veral in sektore waar transformasie broodnodig is. Hulle sê die aangeleentheid demonstreer die belangrikheid van gekwalifiseerde leierskap in regeringsposte.
# Die Vryheidsfront Plus doen ‘n beroep op Emfuleni se burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Hassan Mako, om die munisipaliteit se skuldprobleem dringend op te los. Die balju van die hof het gister op vier van die plaaslike owerheid se bankrekenings beslag gelê, nay hy nie sy skuldooreenkoms met Eskom nagekom het nie. Emfuleni skuld sedert 31 Augustus die kragnutsmaatskappy meer as agt-miljard-rand vir grootmaatkrag. Die VF Plus sê inwoners moet nie langer gestraf word vir die ANC se mislukte bestuur van Emfuleni nie.
# Motorsport: Lando Norris van McLaren sê hy wil probeer in die F1-wêreldtitel op meriete te verower. Sy spanhoof, Andrea Stella, het voor die naweek se Grand Prix in Azerbadjan onthul hulle gaan Norris ‘n prioriteit maak. Die Britse renjaer is 62 punte agter Max Verstappen van Red Bull in die bestuurderskampioenskap. Norris sê McLaren se besluit om hom eerste in die titelwedren te plaas beteken nie sy spanmaat Oscar Piastri gaan wedrenoorwinnings opgee nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-90-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-563-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Span van vier bemanningslede op ‘n privaat sending aan boord ‘n SpaceX-kapsule het gister die wêreld se eerste kommersiële ruimte-uitstappie voltooi. Die miljardêr tegniese uitvoerende hoof, Jared Isaacman en ‘n ingenieur van SpaceX, Sarah Gillis, het die eerste privaat-bemanningslui geword om in die ruimte te loop. Die ander spanlede, Scott Poteet en Anna Menon het in die kapsule agtergebly. Die bemanning van Polaris Dawn gaan nog ‘n paar dae in ‘n wentelbaan bly om oorblywende sendingtake uit te voer, insluitend byna 40 eksperimente.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….