Nuus 07:00
BULLETIN 27 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s beskou die mini-begroting as positief vir Suid-Afrika se kredietprofiel
# Die GOOD-party beskuldig die DA-leier hy respekteer nie die Nobelpryswenner Navi Pillay nie
# En rugby: Springbok-vroue klim tot geskiedkundige negende plek op Wêreldrugby-ranglys
# Die kredietgraderingsagentskap, Moody’s, beskou Suid-Afrika se mini-begroting wat die minister van Finansies, Enoch Godongwana, verlede week in die Parlement ter tafel gelê het, as positief vir die land se kredietprofiel. Hy verwys na strenger monetêre beleid en voortgesette fiskale bestendiging, ten spyte van hoër oliepryse en ‘n swakker nominale bruto binnelandse produk, wat fiskale verhoudings beïnvloed het. Moody’s verwag dat die land se skuld teen 2028 84,9-persent van die BBP sal uitmaak, teenoor 86,8-persent verlede jaar. Hy sê skuld se bekostigbaarheid bly swak, en rente het in die 2025-boekjaar 18,8-persent van die regering se algemene inkomste opgeneem.
# Die Inter-ministeriële Komitee oor Migrasie sê sy vergadering met die organiseerders van betogings by Binnelandse Sake se kantoor was hartlik en openhartig, en belangrike kwessies is bespreek. Gewelddadige betogings het vroeër die maand in Durban en Johannesburg uitgebreek, gevolg deur wydverspreide waninligting oor ‘n opdrag van Binnelandse Sake oor die verwerking van asielsoekers. Die Konstitusionele Hof het in Julie sekere bepalings van die Wet op Vlugtelinge ongrondwetlik en ongeldig verklaar. Die komiteevoorsitter, Mmamoloko Kubayi, sê die komitee het weer bevestig dat hulle nie teen wettige migrasie gekant is nie:
# Die GOOD-party het DA-leier Geordin Hill-Lewis gekritiseer oor sy kommentaar oor Suid-Afrika se vyfde Nobelprys vir Vrede-wenner, Navi Pillay. In ‘n radio-onderhoud verlede week het Hill-Lewis sy party se versuim om Pillay se prestasies te erken, verdedig en haar as ’n verdelende figuur beskryf. Die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, sê Hill-Lewis se uitlatings oor Pillay stem ooreen met die wyse waarop voormalige leiers uit die apartheidsera die Nobelpryswenners Albert Luthuli en Desmond Tutu behandel het:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê sterker veiligheidsmaatreëls is dringend nodig om veldwerkers van Statistiek Suid-Afrika te beskerm, nadat ‘n werknemer na bewering in Viljoenskroon in die Vrystaat met ‘n mes aangeval is. Die werker het ernstige beserings ontkom, terwyl hul voertuig beskadig is. Lynsie Pelser van die vakbond vra die instelling van noodwaarskuwingstoestelle, verbeterde veiligheidsprotokolle en trauma-ondersteuning vir werknemers wat geraak is:
# President Donald Trump van Amerika bly ʼn belangrike faktor in die komende middeltermynverkiesing, al is hy nie op die stembrief nie. Volgens ʼn nuwe CBS-peiling sê 41-persent hulle stem vir die Kongres is teen Trump, terwyl net 26-persent hom steun. Die meeste mense wat die Demokrate ondersteun, se motivering is om Trump en die Republikeinse Party se beleide te keer, eerder as om die Demokrate se eie beleide te bevorder. Volgens die meeste kiesers het nie die Demokrate of die Republikeine egter ʼn duidelike plan vir beheer oor die Kongres nie.
# Rugby: Die Springbok-vroue is nou negende op die Wêreldrugby-ranglys, hul hoogste posisie ooit, nadat hulle ʼn jaar gelede tot onder die eerste tien gevorder het. Suid-Afrika het vanjaar agt van hul 12 toetse gewen en hul vordering op die internasionale verhoog bevestig. Hulle moet nog een wedstryd speel teen die vyfde geplaaste Ierland, nadat hulle verlede naweek in Kaapstad met 40-27 teen die Iere verloor het. Engeland bly in die eerste plek, gevolg deur Nieu-Seeland, Kanada en Frankryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-820-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-17-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 114-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….