Nuus 07:00
BULLETIN 6 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ampsklagkomitee stem in om Ramaphosa te versoek om voor hulle te verskyn
# TLU SA sê eiendomsregte raak alle Suid-Afrikaners
# En die VN se menseregtehoof is bekommerd oor die toename in teregstellings in Iran
# Die Parlement se Ampsklagkomitee het ooreengekom dat president Cyril Ramaphosa versoek sal word om voor hulle te verskyn. ‘n Mening wat deur die Parlement se regsadviseurs saamgestel is, dui daarop dat die president nie anders behandel sal word as enige ander getuie wat na die Parlement geroep is om getuienis af te lê nie, en dat hy toegelaat moet word om vrywillig te getuig. Die komiteevoorsitter Makashule Gana sê as Ramaphosa weier om voor die komitee te verskyn, sal hy gedagvaar moet word:
Die EFF-leier Julius Malema het intussen voorgestel dat alle getuies wat voor die Ampsklagkomitee sal getuig, persoonlik moet verskyn eerder as virtueel. Die komitee is besig met voorbereidende werk en regshersienings oor wangedragbewerings teen president Cyril Ramaphosa weens die Phala Phala-skandaal. Malema sê persoonlike getuienis van getuies sal die integriteit van die verrigtinge beskerm. Hy het ook daarop aangedring dat alle verhore oop moet bly vir die media:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê eiendomsregte raak elke Suid-Afrikaner en is noodsaaklik vir ekonomiese groei, werkskepping en beleggersvertroue. Hy waarsku die verswakking van eiendomsregte kan voedselsekerheid, ekonomiese bestendigheid en regsekerheid bedreig. Caria van der Merwe van TLU SA sê burgers moet ingelig bly oor ontwikkelinge rondom onteiening sonder vergoeding, wat verreikende gevolge vir ondernemings, gesinne en gemeenskappe kan hê:
# Die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Menseregte, Volker Türk, het sy kommer uitgespreek oor die toename in teregstellings en doodsvonnisse wat sedert Maart in Iran opgelê is. Ten minste 56 mense is tereggestel op aanklagte van nasionale veiligheid, insluitend 27 individue in sake wat verband hou met Januarie se landwye teen-regeringsbetogings. Teregstellings vir dwelmverwante oortredings duur ook teen ‘n kommerwekkende tempo voort. Türk sê die volgehoue gebrek aan billike verhoor en waarborge vir ‘n behoorlike proses is uiters kommerwekkend. Hy sê die doodstraf is onversoenbaar met die reg op lewe en menswaardigheid.
# Rugby: All Blacks-veteraan Beauden Barrett, wat al in 144 toetse gespeel het, is die ster-speler van die groep van 23 spelers vir môre se wedstryd teen die Stormers in Kaapstad. Barrett word ondersteun deur buitesenter Anton Lienert-Brown, wat 90 toetse gespeel het, saam met die linkervleuel Rieko Ioane, in 88 toetse, en die slot Patrick Tuipulotu, wat in 57 toetse sy verskyning gemaak het, en ook die span vir die wedstryd sal aanvoer. Die vleuel Rieko Ioane is ook weer ingesluit na hy van Leinster teruggekeer het. Die stut Siale Lauaki en veelsydige verdediger Josh Jacomb is albei nuwelinge vir Nieu-Seeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-544-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-288-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nuwe studie deur die Universiteit van Wes-Kaapland dui aan om te veel tyd op sosiale media en slimfone deur te bring kan ‘n uitwerking op studente se geestesgesondheid hê. Volgens navorsers is studente wat meer tyd op sosiale media spandeer het, meer geneig om simptome van depressie, angs en posttraumatiese stresversteuring te toon. Anita Padmanabhanunni van die universiteit dring aan universiteite moet gesonder slimfoongewoontes aanmoedig en bewustheid van die geestesgesondheidsrisiko’s van oormatige gebruik verhoog:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….