Nuus 07:00
BULLETIN 23 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel die raadslede van die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap aan
# Die Parlement sal vandag oor die Begrotingswetsontwerp stem
# En sokker: Nigerië steek ’n stokkie voor Banyana Banyana se hoop om haar Wafcon-titel te verdedig
# President Cyril Ramaphosa het raadslede vir die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap aangestel. Die termyn begin op 1 Augustus en duur drie jaar. Die raadsvoorsitter is doktor Sunshine Myende, en Bonga Makhanya is die ondervoorsitter. Raadslede sluit in Kelly Baloyi, Wiseman Mbatha en Busisiwe Nxumalo. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die agentskap funksioneer as ‘n enkele eenheidstruktuur wat jeugontwikkelingskwessies op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlak hanteer:
# Die Parlement sal vandag oor die Begrotingswetsontwerp stem, wat ‘n belangrike stap is in die afhandeling van die nasionale begroting. Dit volg op talle debatte oor departementele besteding die afgelope klompie weke. Die wetsontwerp bepaal hoe openbare fondse aan verskeie regeringsdepartemente toegewys sal word. Die woordvoerder van die Parlement, Moloto Mothapo, sê die Nasionale Vergadering moet die begroting daarna goedkeur, waarna dit op 30 Julie vir oorweging na die Nasionale Raad van Provinsies verwys sal word:
Die Mk-party sê intussen die afdanking van die voormalige minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, was ‘n strategiese skuif deur president Cyril Ramaphosa om die ondersteuning van die DA te kry voor vandag se stemming oor die Begrotingswetsontwerp. Die party voer aan Nkabane was net ‘n offer, terwyl die dieper korrupsie binne die regering van nasionale eenheid onaangeraak bly. John Hlophe van MK sê die party verwerp die Begrotingswetsontwerp en hulle vra hul bondgenote om dieselfde te doen:
# Die EFF in Gauteng het die inhegtenisneming verwelkom van ʼn verdagte wat by die moord op die hoof van die Ekurhuleni Korporatiewe en Forensiese Ouditdepartement, Mpho Mafole, betrek word. Hy is verlede maand in Kempton Park doodgeskiet. Mafole het ʼn geheimsinnige inkomste-tekort van twee-miljard-rand in die metro se elektrisiteitsrekeninge ondersoek. Die polisie soek ook na die verdagte se vermeende medepligtige. Die EFF het die polisie se vinnige ondersoek geloof en sê daar is te veel onopgeloste sake in die provinsie weens onbevoegdheid, korrupsie en personeeltekorte.
# Amnestie Internasionaal sê die Israelse weermag se doelbewuste lugaanvalle op Teheran se Evin-tronk tydens verlede maand se 12-dae-oorlog moet as oorlogsmisdaad ondersoek word. Minstens 79 mense is volgens berigte dood en dele van die administratiewe gebou is vernietig. Die Evin-tronk is vir politieke gevangenes en buitelandse burgers. Amnestie Internasionaal sê onder internasionale humanitêre wette is ʼn tronk of plek van aanhouding ʼn burgerlike terrein. Hy sê daar is dus geen geloofwaardige bewys dat die tronk in hierdie geval ʼn wettige militêre teiken was nie.
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Banyana Banyana, het ʼn 2-1-nederlaag teen Nigerië gely by die Afrikabeker-vrouetoernooi in Marokko. Rasheedat Ajibade het in die eerste helfte die Super Falcons met ʼn strafskop ʼn voorsprong gegee. Linda Motlhalo van Suid-Afrika het die telling in die tweede helfte gelykop gemaak, maar Michelle Alozie het in ekstra tyd vir die wendoel gesorg. Nigerië en Marokko takel mekaar in die eindwedstryd. Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, sê sy is trots op haar span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-692-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-424-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….