Nuus 07:00
BULLETIN 26 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier sê die party is op die rand van geskiedenis in die komende verkiesing
# Duduzane Zuma sê die MK-party huiwer nie om mense te verwyder wat nie hul werk doen nie
# Marine Le Pen beloof om “ware verandering” in Frankryk teweeg te bring
# Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê sy party is op die rand van ‘n waarlik geskiedkundige gebeurtenis in volgende week se plaaslikeregeringsverkiesing, met baie Suid-Afrikaners wat dit oorweeg om die eerste keer vir die party te stem. Hy het gister ondersteuners by die DA se verkiesingsaamtrek in eThekwini toegespreek. Hill-Lewis sê die party sal kiesers vir hul vertroue vergoed deur korrupsie uit te roei, basiese dienste aan die gang te kry, meer werk te skep en gemeenskappe veiliger te maak:
# Die MK-party se eerste adjunkpresident Duduzane Zuma sê die komende plaaslikeregeringsverkiesing is die party se trap na 2029. Hy het gister by ʼn saamtrek in uMlazi, KwaZulu-Natal, gepraat. Zuma sê die party se enigste geleentheid om sy vermoë aan die wêreld te bewys, is in die munisipaliteite waar hulle regeer. Hy sê ook hulle sal nie huiwer om lede te verwyder wat nie hulle werk doen nie. Dit volg na verlede week se verwydering van Sibonelo Nomvalo as sekretaris-generaal:
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum sê hy sal die Johannesburgse Hooggeregshof nader om die verwydering van die voorsitter van die Kommissie vir Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Regte, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, te eis. Die president van die Forum, Marothi Mashashane, sê die Kommissie het geen wetlike of grondwetlike gesag om Christelike kerke te reguleer, te lisensieer of te keur nie. Mashashane sê die Kommissie se mandaat, ingevolge Artikel 185 van die Grondwet, is om godsdienstige regte te beskerm, te bevorder en te verdedig, en nie om as ‘n regulerende of wetgewende liggaam oor kerke op te tree nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê vordering word gemaak met die opgradering van Sir Lowry’s-pas wat 373,7-miljoen-rand kos. Die projek beoog om padveiligheid, verkeersvloei en toeganklikheid in die Gordonsbaai-gebied te verbeter. Bouwerk het in April 2026 begin en sal na verwagting in April 2028 voltooi wees, mits die toestande gunstig is. Volgens Simmers behels die projek die herbou van ongeveer 4,57-kilometer van die bestaande enkelbaanpad na ‘n dubbelbaanpad tussen die N2 en Faure Marine-weg, ook bekend as die R-44.
# Die leier van Frankryk se National Rally-party, Marine Le Pen, sê die land se huidige situasie is weens sy leiers, nie sy mense nie. Dit volg nadat Frankryk die naweek onder ʼn nuwe vlaag betogings deurgeloop het waartydens meer as ʼn duisend mense Saterdag in hegtenis geneem is. Le Pen het met die bekendstelling van haar 2027-veldtog om as president verkies te word, president Emmanuel Macron se regering beskuldig dat hy sag optree teenoor gewelddadige betogers en gesag kort. Sy vra ʼn “nuwe renaissance” in Frankryk en beloof om “ware verandering” in die land te bring.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Kwagga Smith het ʼn driejaar-kontrak by die Bulle onderteken. Die tweemalige Wêreldbeker-wenner het onlangs ʼn agtjaar-termyn by Shizuoka Blue Revs in Japan voltooi. Hy het in Mei ʼn ernstige kniebesering opgedoen en is die res van die seisoen buite aksie. Dit beteken die 33-jarige speler maak sy Bulle-debuut vroeg in die nuwe jaar. Smith sê hy is opgewonde om by die span aan te sluit en sê een van sy beste ervarings was om voorheen onder afrigter Johan Ackermann by die Leeus te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-551-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-990-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 115-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….