Nuus 07:00
BULLETIN 8 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingshof sal vandag die MK-party se aansoek aanhoor oor Zuma se kandidatuur
# Meer as 30 huise is beskadig in die Drakenstein-munisipaliteit weens die gure weer
# En president Ramaphosa sê ‘n politieke oplossing is nodig in die konflik tussen Rwanda en die DRK
# Die Verkiesingshof hoor vandag die uMkhonto weSizwe Party se aansoek aan teen die uitsluiting van oudpresident Jacob Zuma as een van die party se kandidate vir die Parlement. Die Verkiesingskommissie het verlede maand aangekondig dat Zuma, weens sy kriminele rekord, nie as kandidaat verkiesbaar mag wees nie. Dit spruit uit die tronkstraf van 15 maande wat die Konstitusionele Hof hom in 2021 opgelê, het nadat hy skuldig bevind is aan minagting van die Hof. Die MK-party sê die OVK het fouteer met dié besluit.
Die IVP in KwaZulu-Natal sê intussen die provinsie verdien beter leierskap. Die party het gister sy provinsiale verkiesingsmanifes in Ulundi bekendgestel. KwaZulu-Natal word bestempel as ‘n slagveld vir die stryd tussen die ANC, IVP en die uMkhonto weSizwe Party, in vanjaar se algemene verkiesing. Die IVP-premierskandidaat, Thami Ntuli, sê inwoners het ‘n keuse tussen ‘n regering wat arrogant, korrup en grootpraterig is, óf ‘n IVP-leierskap en -regering wat vertrou kan word en wat ‘n goeie bestuursrekord het.
# Die Drakenstein-munisipaliteit het ‘n omvattende rampbestuur-aksieplan in werking gestel. Dit volg in reaksie op ernstige weerstoestande, insluitend swaar reën en wind wat die munisipale gebied sedert gister getref het. Meer as 30 huise se dakke is afgewaai en sommige is ook struktureel beskadig. Wydverspreide kragonderbrekings kom voor weens sterk wind wat elektrisiteitskabels óf uitgeruk het óf elektrisiteit-pale omgewaai het. Daar het ook bome op oorhoofse elektrisiteitskabels geval. Die burgemeester, Stephen Korabie sê die veiligheid van inwoners en infrastruktuur is die hooffokus op die oomblik.
# ‘n Mediese dokter en nog drie verdagtes verskyn vandag in die Landdroshof in Vanderbijlpark ná die skietdood van ‘n 33-jarige vrou. Die Gautengse polisiewoordvoerder, Mavela Masondo, bevestig die dokter, na wat berig word die slagoffer se eks-man, en sy mede-beskuldigdes staar ‘n moordklag in die gesig. Die vrou is in haar motor aangetref met talle skietwonde:
# President Cyril Ramaphosa sê ‘n politieke oplossing is nodig in die konflik tussen Rwanda en die Demokratiese Republiek die Kongo. Hy het Rwanda besoek om die 30ste herdenking by te woon van die 1994-volksmoord, toe ekstremiste in die Hutu-etniese groep tydens ‘n 100-dae-moordtog ongeveer 800-duisend mense, hoofsaaklik etniese Tutsi’s, vermoor het. Ramaphosa sê vrede in die streek is van die grootste belang:
# Rugby: Die Blitsbokke se hoofafrigter, Philip Snyman, sê hy is tevrede met sy span se verbetering in die Hongkong Sewes-toernooi. Die Blitsbokke het sesde geëindig en genoeg punte bymekaargemaak vir hul derde-beste vertoning dié seisoen, en om hul plek onder die top agt op die algehele punteleer te behou. Snyman sê die fokus sal nou verskuif na voorbereiding vir die Groot Finaal van die nuwe Sewesreeks in Madrid teen die einde van Mei:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-305-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….