Nuus 07:00
BULLETIN 6 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid stuur 55 arbeids-aktiveringsprogramme by Nasrec van stapel
# ‘n Aardbewing van 4,8-omvang tref New York en omstreke
# En, rugby: Die Blitsbokke sit hulle goeie vertoning voort by Hongkong-sewes met ‘n sterk oorwinning oor Samoa
# Die minister van Indiensneming en Arbeid Thulas Nxesi stuur vandag 55 arbeidsaktiveringsprogramme by die Nasrec-exposentrum in Johannesburg van stapel. Dit is in samewerking met die premier van Gauteng Panyanza Lesufi se Nasi Ispani-projek. Die inisiatief is deel van ‘n breër nasionale projek om meer as 700-duisend werksgeleenthede regoor die land te skep. Nog twee fases sal in die komende weke aangekondig word, gemik op die implementering van 105-arbeids-aktiveringsprogramme in die provinsie:
# Cope onthul vandag sy verkiesingsmanifes by die Motjibosane-sportterrein in Hammanskraal, noord van Pretoria . Die waarnemende algemene sekretaris, Erick Mohlapamaswi, sê die manifes sal uitdagings in townships en landelike gebiede aanspreek. Hy sê die besluit om die bekendstelling in Hammanskraal te hou beklemtoon Cope se toewyding om verwaarloosde gemeenskapskwessies te takel, en toon direkte aandag aan kwessies op voetsoolvlak:
# Die Amerikaanse Geological Survey sê ‘n 4.8-omvang aardbewing het gister naby New York voorgekom. Dit het geboue aan die Ooskus geskud en inwoners verras in ‘n gebied wat selde seismiese aktiwiteit beleef. Reuters berig die skudding se episentrum was in Tewksbury in sentraal-New Jersey, omtrent 64-kilometer wes van New York City. Dit het net na half-vyf gistermiddag, Suid-Afrikaanse tyd, gebeur, op ‘n diepte van 4,7-kilometer. Vliegtuie kon tydelik nie opstyg nie maar niemand is beseer nie, en New York se ikoniese horison is nog daar.
# Rugby: Die Blitsbokke het hulle goeie vertoning by die Hongkong-sewes vroeg vanoggend voortgesit met ‘n sterk 26-7-oorwinning oor Samoa. Hulle het gister ook beïndruk deur Ierland met 22-17 en Spanje met 24-10 te klop. Hulle oorwinning oor Samoa vanoggend het hulle plek in die kwarteindstryd verder bevestig, hoewel die eerste twee oorwinnings die pad na die kwarteindronde reeds gelykgemaak het. Die tussentydse hoofafrigter Philip Snyman sê hy is tevrede met die span se spelpeil sover.
# En, laastens: Die Wes-Kaap is gereed om ‘n sleutelspeler in avontuurtoerisme te word, ‘n sektor wat na verwagting teen 2032 wêreldwyd 85-duisend-miljard-rand sal bereik. Volgens ‘n verslag deur Wesgro sluit avontuurtoerisme harde sowel as sagte aktiwiteite in, wat terselfdertyd voorsiening maak vir avonturiers en die natuurliefhebbers. Met ‘n oplewing in wêreldwye belangstelling, groei Suid-Afrika se avontuurtoerismemark en bied unieke ervarings, met die fokus op volhoubaarheid en omgewingsbeskerming. Die uitvoerende hoof, Wrenelle Stander, beklemtoon die belangrikheid daarvan om toeriste se voorkeure te begryp en om ervarings daarvolgens aan te pas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….