Nuus 07:00
BULLETIN 22 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie stel nuwe reëls voor om die beheer oor staatskuld te versterk
# Macron beskuldig buitelandse leiers dat hulle die betogings in Frankryk uitbuit
# En krieket: Die Proteas is in ‘n posisie om die toetsreeks teen Australië gelykop te laat eindig
# Die Nasionale Tesourie het konsepwetgewing vir openbare kommentaar vrygestel, wat daarop gemik is om langtermyn- fiskale dissipline ’n formele deel van Suid-Afrika se openbare finansiële stelsel te maak. Die voorgestelde fiskale anker sou van elke nuwe administrasie vereis om sy eie finansiële doelwitte te stel in ooreenstemming met sy verkiesingsmandaat. Elke administrasie sal dan enige beduidende afwykings daarvan aan die Parlement moet verduidelik. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die wetgewing sal na verwagting volgende jaar in die Parlement ter tafel gelê word:
Die ANC verwelkom intussen die Mini-begroting, en loof veral die tien-miljard-rand aan brandstofverligting, asook die voortgesette ondersteuning vir meer as 18-miljoen ontvangers van toelaes. Godongwana, het gister ‘n verlaging in die algemene brandstofheffing aangekondig. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die minister is reg wanneer hy sê die doel is nie net om meer te bestee nie, maar om beter te bestee, en elke rand moet harder werk vir die mense:
En in nog nuus oor die begroting beskuldig die EFF Godongwana dat hy sy fiskale magte misbruik deur die brandstofheffing sonder parlementêre goedkeuring aan te pas. Die heffing word volgende maand verlaag met drie-rand per liter vir diesel en een-rand-50-sent vir petrol. Sinawo Thambo van die EFF sê Godongwana gebruik die staat se magte om ʼn politieke party se kanse in die verkiesing te verbeter:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik dring aan op ‘n onafhanklike ondersoek na ‘n tender van 70-miljoen-rand wat deur die Merafong-munisipaliteit in Gauteng toegeken is. Volgens die organisasie is die kontrak toegeken aan ‘n maatskappy wie se bod byna 35-miljoen-rand duurder was as dié van die bieër wat deur die munisipaliteit se evalueringskomitee aanbeveel is. Hy is ook bekommerd oor teenstrydige tegniese verslae en die munisipaliteit se versuim om verkrygingsrekords te verskaf. Rudie Heyneke van OUTA sê die munisipaliteit moet die tenderbesluit verduidelik, te midde van voortdurende water- en elektrisiteitsprobleme.
# President Emmanuel Macron van Frankryk beskuldig buitelandse leiers dat hulle vir politieke gewin “dom opmerkings” maak oor die onluste in sy land. Betogings oor die toestand van onderwys en lewenskoste in Frankryk het die naweek ontaard in landwye oproer en geweld. Meer as twee-duisend mense is die afgelope naweek gearresteer. President Donald Trump van Amerika sê migrante, djihadiste en kommuniste hits die onluste aan. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê Frankryk loop deur onder ʼn “inval van ekstremistiese Islam”. Macron beskuldig leiers ook dat hulle verkeerde inligting vererger.
# Krieket: Australië het 156 vir vier aangeteken in hul tweede beurt op die voorlaaste dag van die tweede toets teen Suid-Afrika in Gqeberha en kort nog 170 lopies. Die Protea-boulers het die besoekers in hul eerste beurt op 99 almal uitgehaal met Marco Jansen wat vyf paaltjies platgetrek het. Suid-Afrika het hul eerste beurt op 425 gesluit verklaar met ʼn massiewe 326 lopie-voorsprong. Travis Head hervat vandag op 87 en Scott Boland op twee terwyl hulle probeer om Australië in die toets te hou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-39-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-693-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-114-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 111-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….