Nuus 07:00
BULLETIN 3 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-partyleier Visvin Reddy kan tronkstraf opgelê word vir sy geweldsdreigemente
# Die EFF vra vir die onmiddellike arrestasie van Mapisa-Nqakula
# En motorsport: Mercedes is nie bekommerd oor die betroubaarheid van sy voertuig nie
# Die Umkhonto We Sizwe Partyleier, Visvin Reddy, kan ingevolge die Wet op Oproerige Byeenkomste aangekla word omdat hy na bewering geweld oor moontlike onrus aangehits het, as die voormalige president Jacob Zuma nie verkies word nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig Reddy sal vandag in die Chatsworth-landdroshof verskyn. News24 berig Reddy ontken enige oortreding, en sal die aanklagte uitdaag en die staat dagvaar indien suksesvol. Reddy se opmerkings, is op ‘n video wat soos ‘n veldbrand versprei het. Hy waarsku oor onluste en verkiesings-ontwrigtings as die MK-party van die verkiesing uitgesluit word.
# Die EFF sê wetstoepassingsagentskappe moet onmiddellik die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, arresteer om te verseker dat sy die volle gevolge van haar optrede dra. Haar dringende aansoek om haar inhegtenisneming te keer, is gister in die Hooggeregshof in Pretoria met koste van die hand gewys en van die rol geskrap. Sy word daarvan beskuldig dat sy tussen 2017 en 2019 omkoopgeld van ‘n verdedigingskontrakteur versoek het terwyl sy minister van Verdediging was. Die EFF sê Mapisa-Nqakula se gedrag en hebsug het nie net haar reputasie vernietig nie, maar ook tot ernstige gevolge gelei vir die Suid-Afrikaanse Weermag.
# Die visekanselier van Fort Hare Universiteit, Sakhele Buhlungu, is teleurgesteld en sê hy voel verraai nadat nog 15 verdagtes in hegtenis geneem is in verband met ‘n korrupsieskandaal. Die verdagtes is afkomstig uit verskeie provinsies en het in die Landdroshof op Dimbaza verskyn om vir borgtog aansoek te doen. Die totaal aantal arrestasies staan nou op 25. Sommige verdagtes sal na verwagting vandag in die hof verskyn vir ‘n formele borgtogverhoor. Buhlungu het wetstoepassingseenhede geprys vir hul voortgesette werk met die ondersoek:
# President Cyril Ramaphosa het die Spesiale Ondersoekeenheid gemagtig om bewerings van wanadministrasie en korrupsie in die KwaZulu-Natalse Departement van Sport, Kuns en Kultuur te ondersoek. Die ondersoek sal kyk na die bou van nege biblioteke, die verskaffing van boeke en die ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose of verkwistende uitgawes wat deur die departement aangegaan is. Die eenheid sê die ondersoek sal ook enige onwettige of onbehoorlike optrede deur departementele amptenare of werknemers insluit.
# Iran onderneem om wraak te neem na die lugaanval Maandagaand in Damaskus waarin sewe militêre amptenare dood is. Die aanval op die Iranse konsulaat in die Siriese hoofstad word aan Israel toegeskryf. Teheran het sedert die begin van die oorlog in Gaza direkte konflik met Israel vermy maar steun sy bondgenote wat Israeliese en Amerikaanse teikens aanval. ‘n Senior Israeliese regeringsamptenaar het aan Reuters gesê die teikens, lede van Iran se Revolusionêre Wag, was die dryfveer agter verskeie aanvalle op Israeliese en Amerikaanse teikens.
# Motorsport: Mercedes sê daar is geen groot kommer oor die span se betroubaarheid vorentoe nie. Lewis Hamilton en George Russell se onvermoë om in Australië klaar te maak, het die Formule Een-span vierde gelaat op die vervaardigerspunteleer en 72 punte agter Red Bull, met Ferrari slegs vier punte agter die voorlopers. Mercedes se tegniese direkteur, James Allison, sê ál die fokus is daarop om meer werkverrigting uit die motor te kry:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-772-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-283-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….