Nuus 07:00
BULLETIN 28 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Pravin Gordhan dreig met regstappe teen die Parlement oor die SAL-Takatso-ondersoek
# ‘n VN-verslag bevind meer as een-miljard maaltye word daagliks wêreldwyd vermors
# En krieket: Wolvaardt se honderdtal help die Protea-vroue om Sri Lanka in hul eerste T20 te klop
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, dreig met regsoptrede teen die Parlement weens ‘n voorstel dat die Spesiale Ondersoekeenheid die mislukte ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Takatso-konsortium ondersoek. Die portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings sê die departement kon nie al die bewerings wat die gewese direkteur-generaal, Kgathatso Tlhakudi, oor die ooreenkoms gemaak het, suksesvol betwis nie. Gordhan het vroeër die maand aangekondig die verkoop van 51-persent aandele in die SAL aan Takatso is gekanselleer te midde van beweerde onreëlmatighede in die ooreenkoms.
# Die algemene werkersvakbond GIWUSA het die verlies aan 194-duisend werksgeleenthede in die vierde kwartaal van 2023 veroordeel en sê daar is ‘n 1,8-persent afname in die arbeidsmag. Die president van die vakbond, Mametlwe Sebei, gee neo-koloniale kapitalisme en die ANC se neo-liberalisme die skuld. Sebei vra die nasionalisering van sleutelsektore, en die prioritisering van werkskepping in verskeie nywerhede soos konstruksie. Hy sê daar moet dringend aandag gegee word aan armoede en ongelykheid:
# Die Stad Johannesburg het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Sosio-ekonomiese Regte se hofsaak veroordeel. Die nieregeringsorganisasie het gekeer dat die metro ʼn ongebruikte, vervalle gebou in die voorstad Bellevue-Oos sloop. Die instituut sê die stad se besluit om die gebou te sloop is onregmatig en die bewoners moet alternatiewe behuising kry as dit gebeur. Die burgemeesterskomiteelid vir Ontwikkelingsbeplanning, Eunice Mgcina, sê dis onaanvaarbaar dat die stad miljoene rand moet mors om hierdie onnodige hofsake te verdedig.
# Die Wes-Kaapse regering het ‘n baanbreker-begrotingstoekenning van 30,85-miljard-rand vanjaar vir onderwys aangekondig; die grootste ooit in die geskiedenis van die provinsie. Die LUR vir Onderwys David Maynier sê dié aansienlike belegging sal inisiatiewe steun soos die Back-On-Track-program om leerverliese aan te spreek en die Vinnige Skoolbouprogram om skole beskikbaar te stel in gemeenskappe wat te min dienste het:
# Meer as ʼn miljard maaltye word daagliks wêreldwyd vermors terwyl 783-miljoen mense honger ly. Dit is volgens ʼn verslag van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram. Die program se 2024-verslag oor voedselvermorsing het bevind 60-persent is in 2022 op huishoudelike vlak vermors, 28-persent deur voedseldienste en 12-persent in die kleinhandel. Die VN-omgewingsprogram se uitvoerende direkteur, Inger Andersen, sê die mors van kos is ʼn globale tragedie wat onmiddellik moet aandag kry.
# Krieket: Kaptein Laura Wolvaardt se honderdtal het bygedra tot die Suid-Afrikaanse vrouespan se gemaklike oorwinning van 79 lopies oor Sri Lanka se vroue in die eerste T20 in Benoni. Wolvaardt het 102 van 63 balle behaal en slegs die tweede Protea-vrou geword wat ʼn T20-honderdtal kon aanteken. Sy en Marizanne Kapp spog ook met ‘n rekord van 116 lopies om die tweede paaltjie wat die Suid-Afrikaners se telling op 198 vir vyf te staan gebring het. Sri Lanka is daarna op 119 almal uit. Wolvaardt sê sy is gelukkig met haar vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-56-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-194-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….