Nuus 07:00
BULLETIN 27 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA se proaktiewe oplossing vir die fiskale krisis word in die Parlement geblokkeer
# Vladimir Putin soek steeds ‘n verband tussen Oekraïne en die dodelike Moskou-slagting
# En rugby: ’n Reusestryd in die skrums word verwag wanneer die Ierse span Ulster teen die Stormers uitdraf
# Die DA beweer die ANC gaan sy meerderheid in die komende verkiesing op 29 Mei verloor. Die party sê die ANC en die EFF het gesamentlik die wenslikheid van sy Wetsontwerp op Verantwoordelike Besteding teengestaan, tydens ‘n sitting van die Parlement se staande komitee oor Finansies. Dit was ondanks steun daarvoor deur die Nasionale Tesourie en belanghebbendes. Dion George van die DA sê indien die wetsontwerp goedgekeur word, sal dit loon-ongelykhede normaliseer, verligting bied vir laerinkomste-werkers, én onvolhoubare openbare skuld en bestedingstekorte beperk:
# AfriForum sê Eskom se besluit om teen verlede week se hofuitspraak oor sy steenkool- en dieselkontrakte te appelleer, is ‘n vertragingstaktiek. Verlede Vrydag het die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria die kragvoorsiener beveel om alle inligting oor sy bestaande steenkool- en dieselkontrakte binne tien dae aan die burgerregte-organisasie bekend te maak. Louis Boshoff van AfriForum sê dit lyk of Eskom alles in die stryd werp om te verhoed dat inligting oor die kontrakte bekend gemaak word, want dit kan korrupsie openbaar:
# Johannesburg se burgemeester, Kabelo Gwamanda, sê ‘n sterk watersekerheidstrategie is noodsaaklik. Hy het gister die stad se Watersekerheidstrategie bekend gestel wat die oorgang na ʼn water-seker, water-sensitiewe metro moet lei. Johannesburg se inwoners het die afgelope weke watertekorte ondervind. Gwamanda sê dis ʼn aanmaning dat watersekerheid nie net ʼn luukse is nie, maar ʼn noodsaaklikheid wat dringende aandag en daadwerklike optrede vereis. Hy sê stelselkwessies wat bydra tot wateronsekerheid moet hanteer word.
# Die Russiese president Vladimir Putin het erken radikale Islamiete was aanspreeklik vir Vrydag se dodelike aanval op konsertgangers in Moskou, maar hou vol hulle het ‘n band met Oekraïne en die Weste. Altesaam 139 mense is dood en tientalle beseer toe vier aanvallers met outomatiese wapens en brandtoestelle op die konsertteater toegeslaan het. Die Islamitiese Staat het later aanspreeklikheid erken en beeldmateriaal van die aanval vrygestel. Die Verenigde State het gesê hulle het twee weke vroeër reeds intelligensie met Moskou gedeel en Putin gewaarsku teen ‘n dreigende terreuraanval deur I-S, maar Putin het die waarskuwing verontagsaam.
# Rugby: ’n Reusestryd word in die skrums verwag wanneer die Ierse span Ulster Kaapstad besoek en Saterdag die Stormers in ’n Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd pak. Dit sal die eerste keer wees dat die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff teen sy voormalige span speel en hy sal sy nasionale spanmaat, Frans Malherbe, aandurf. Kitshoff het die Stormers in 2023 tot die VGK-titel gelei voordat hy oorsee verhuis het. Die Stormers se hulpafrigter, Labeeb Levy, sê hulle sal hul voormalige kaptein tuis verwelkom – totdat die wedstryd begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-403-dollar-98-sent. Die prys van goud is twee-duisend-176-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-84-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Dit is vandag Wêreld-teaterdag wat die belangrikheid van teaters in die vermaaklikheidsbedryf vier. Die dag is in 1962 deur die Internasionale Teaterinstituut ingestel as ʼn dag waarop respek betoon word aan die skoonheid, kreatiwiteit, harde werk en kuns wat vereis word in elke aspek van teaterproduksie, en om dit te vier. Die instituut sê teater word steeds gebruik om stories te vertel en dinge te sien, maar het ook ʼn uitwerking op kultuur en die groter samelewing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….