Nuus 07:00
BULLETIN 15 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof lewer vandag uitspraak in die ANC se saak oor kandidaatlyste
# ‘n Politieke ontleder sê Jacob Zuma se verhoor kan dalk verder vertraag word
# En ‘n geel vlak 2-waarskuwing vir hewige donderstorms is uitgereik vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga
# Die Konstitusionele Hof lewer vandag uitspraak in die ANC se saak oor die Verkiesingskommissie se uitsluiting van kandidaatlyste vir die plaaslikeregeringsverkiesing in ses munisipaliteite. Die hof sal besluit of die ANC se versuim om op die laaste knoppie van die kommissie se aanlyn stelsel te kliek, 181 van sy kandidate van die stembrief gaan hou. Masego Sheburi van die kommissie sê as die name ingesluit moet word, sal dit koste meebring om weer stembriewe te druk in munisipaliteite waar die ANC en ander partye die sperdatum misgeloop het:
# Die politieke ontleder Levy Ndou sê verdere vertragings kan nie uitgesluit word in voormalige president Jacob Zuma se jare lange wapentransaksie-korrupsiesaak nie, ondanks sy besluit om nie verdere appèlle aan te teken nie. Die verhoor sal na verwagting op 1 Februarie volgende jaar begin, ná meer as twee dekades van regsgedinge. Ndou sê baie mense wag dat die saak in die hof aangehoor word, maar hy waarsku nuwe regsuitdagings kan steeds opduik:
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, het kommer uitgespreek oor die dodelike skietery in Katlehong in aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing. Vier mense is Dinsdagaand doodgeskiet, onder andere twee lede van die ANC-jeugliga. Drie ander is in die hospitaal. ‘n Verdagte het homself aan die polisie oorgegee en die saak word deur die Gautengse taakspan oor politieke moorde ondersoek. Nel sê partye en kandidate moet hul veldtog in ʼn veilige omgewing voer:
# Pous Leo se herstel ná ʼn operasie om ʼn laer lob van sy long te verwyder, verloop soos verwag is. Die 71-jarige pous is met long-klierkanker, ʼn algemene soort kanker, gediagnoseer. Die laer lob van een van sy longe is Dinsdag in Rome tydens ʼn operasie van 90 minute verwyder. Volgens sy dokters kon die pous in sy kamers in die hospitaal rondloop en het ontbyt en middagete geëet. Pous Leo sal na verwagting sowat ʼn week in die hospitaal bly om te herstel.
# Krieket: Engeland het besluit om sekere spelers te laat rus voor die toetsreeks in Suid-Afrika, en hulle sal nie aan volgende maand se witbaltoer na Australië deelneem nie. Die toer, wat op 13 November begin, bestaan uit drie eendagwedstryde en vyf T20-wedstryde. Dit eindig op 2 Desember, slegs ‘n week voor Engeland se opwarmingswedstryd in Suid-Afrika wat die reeks van drie toetse teen die Proteas voorafgaan. Thomas Rew en Eddie Jack kan moontlik hul eerste wedstryde vir Engeland in Australië speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-527-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-138-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 106-dollar-13-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vanmiddag ‘n geel vlak-twee-waarskuwing uitgereik vir strawwe donderstorms in dele van Gauteng, Limpopo en Mpumalanga. Die storms kan met swaar reënbuie, kitsvloede, ligte hael, hewige weerlig en sterk rukwinde gepaard gaan. Hierdie toestande kan skade aanrig aan eiendom en infrastruktuur, oorstromings op paaie en in laagliggende gebiede meebring, en kan ook die ontwrigting van munisipale dienste veroorsaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….