Nuus 07:00
BULLETIN 26 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Pandor verwelkom die VN-Veiligheidsraad se resolusie oor ‘n wapenstilstand in Gaza
# Die EFF maak beswaar teen die strawwe vir LP’s vir die ontwrigting van president Ramaphosa se toespraak
# En ‘n sekerheidswag word tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir ‘n moord tydens die Julie 2021-onluste
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, het die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad se aanvaarding van ‘n resolusie verwelkom wat ʼn onmiddellike skietstilstand in Gaza eis tydens die maand Ramadan. Die resolusie eis ook die onmiddellike en onvoorwaardelike vrylating van gyselaars en die dringende uitbreiding van hulp na Gaza. Veertien van die 15 raadslede het ten gunste van die resolusie gestem terwyl Amerika buite stemming gebly het. Pandor sê Suid-Afrika vra reeds lank vir ʼn skietstilstand:
Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het intussen twee van sy topraadgewers se beplande besoek aan Amerika afgestel. Dit volg nadat Amerika besluit het om nie die resolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad te veto nie. Netanyahu beskuldig Amerika dat hy Israel se oorlogspoging en pogings om gyselaars te bevry in gevaar stel deur nie sy veto-reg te gebruik nie. Die Withuis sê sy besluit om buite stemming te bly beteken nie ʼn verandering in beleid nie.
# Die EFF het beloof om voort te gaan met sy stryd teen wat hy beskou as onregverdige strawwe wat die Parlement nege van sy lede opgelê het omdat hulle president Cyril Ramaphosa se begrotingsrede twee jaar gelede ontwrig het. Die Parlement se Komitee oor Bevoegdhede en Voorregte het onlangs ‘n verslag aanvaar wat strawwe aanbeveel, insluitend boetes gelykstaande aan ‘n maand se salaris en toelaes, vir LP’s wat by die ontwrigting betrokke was. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Tambo en ander is ook beveel om Ramaphosa om verskoning te vra. Die verslag sal vandag aan die Huis voorgelê word vir aanvaarding.
# Die Duitse sagtewarereus SAP het ingestem om binne sewe dae 500-miljoen-rand aan die Spesiale Ondersoekeenheid te betaal vir korrupte kontrakte by Eskom. Die SOE sê die skikking het betrekking op twee Eskom-kontrakte ter waarde van sowat 1,1-miljard-rand wat tussen 2013 en 2016 aan SAP toegeken is. Die Spesiale Tribunaal het die kontrakte ongrondwetlik verklaar, aangesien die ondersoek bevind het die kontrakte is onwettig aangegaan. Die eenheid sê die skikkingsooreenkoms onthef nie SAP of enige party wat betrek word van vervolging nie.
# Die Hooggeregshof in Scottburgh het Joel Fenton Pillay tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir ‘n moord wat hy tydens die Julie 2021-onluste in KwaZulu-Natal gepleeg het. Die 38-jarige voormalige sekerheidsbeampte het Lindani Mthethwa geskiet terwyl hy na die bushalte in Verulam gestap het. Pillay het daarna van die toneel af weggevlug. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara sê Pillay is skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade:
# Tennis: Die wêreld se nommer twee, Carlos Alcaraz, is deur na die Miami Ope se ronde van 16 terwyl hy probeer om die gesogte Sonskyn-dubbel te voltooi. Die Spanjaard het die Fransman Gael Monfils met 6-2 en 6-4 verslaan. Die Duitser, Alexander Zverev, het Christopher Eubanks van Amerika met 7-6 en 6-3 geklop. In die vroueafdeling is die Amerikaner en wêreld se nommer drie, Coco Gauff, in ʼn verrassende poging deur Caroline Garcia van Frankryk met 6-3, 1-6 en 6-2 afgeransel. Garcia sê sy is tevrede met haar vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-254-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-171-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….