Nuus 07:00
BULLETIN 5 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma stel sy seun, Duduzani, aan as die MK-party se adjunkpresident
# Die Filmraad vra vir beter tegnologie om inhoud oor kindermishandeling te beveg
# En rugby: Siya Kolisi en ander staatmakers keer terug vir die kragmeting teen Argentinië
# Die MK-party se president, Jacob Zuma, het sy seun, Duduzani, as die party se eerste adjunkpresident aangestel. Hy vervang John Hlophe, wat sy pos as die party se parlementêre leier behou. Tony Yengeni is nou die tweede adjunkpresident. As deel van talle veranderinge aan die party se nasionale struktuur, het Zuma Nkosinathi Nhleko as nasionale voorsitter, en adjunk-sekretaris-generaal, Nomsa Dlamini, verwyder. Hulle word onderskeidelik vervang deur eerwaarde Mxolisi Phakathi en Lindiwe Mtshali. Zuma sê die veranderinge is deel van ‘n organisatoriese hersamestelling om die party te versterk en te verenig.
# Die vakbond Solidariteit vra vir dringende regeringsingryping oor werksomstandighede by die Universiteit van Suid-Afrika. Unisa het voorheen berigte oor sy werksomstandighede as gekoördineerde waninligting afgemaak. Anique Niemand van die vakbond sê ‘n opname onder lede van Solidariteit het bevind dat personeel ‘n oormatige werklas, en ook stres en uitbranding ervaar as gevolg van personeeltekorte en onvoldoende ondersteuning, met die toestande wat hul liggaamlike en geestelike welstand beïnvloed:
# Die Film- en Publikasieraad sê hulle ondervind toenemende uitdagings met die beoordeling van materiaal oor seksuele misbruik van kinders as gevolg van beperkte tegnologie en die toenemende hoeveelheid inhoud. In ‘n inligtingsessie voor die Parlement se portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë het die raadsvoorsitter, Zama Mkosi, gesê die raad benodig ‘n outomatiese stelsel om die proses te verbeter. Mkosi het ook kommer uitgespreek oor die veiligheid van personeel wat in hierdie gevalle getuienis moet lewer:
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi het die provinsiale regering se verbintenis om die stryd teen misdaad te wen herbevestig, en sê dis die grootste struikelblok vir ekonomiese groei, werkskepping en veiliger gemeenskappe. Die provinsie het volgens misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van die 2025/2026-boekjaar ʼn algemene daling van 5,2-persent aangeteken in 17 ernstige misdade wat in gemeenskappe aangemeld is. Lesufi het gister by ʼn ministeriële vergadering oor geslagsgeweld, vrouemoord en misdaadvoorkoming met die gemeenskap in Ivory Park gepraat. Hy moedig gemeenskappe aan om met wetstoepassers saam te werk om misdaad uit te roei:
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê onderhandelinge met Iran en Oman oor die Straat van Hormoes vorder, maar geen finale ooreenkoms is bereik nie. Die olieprys het gister tot die laagste vlak in drie weke gedaal, en ʼn vaatjie Brent-ru-olie was byna vyf-persent goedkoper. Teheran sê hy onderhandel net met Oman oor ʼn tydelike roete deur die Straat sodat vragskepe weer vir handelsdoeleindes kan deurvaar. Rubio sê hy hoop hulle bereik binnekort ʼn ooreenkoms:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het ʼn sterk span van 23 aangewys vir Saterdag se eenmalige toets teen Argentinië in Buenos Aires, met Siya Kolisi wat die span aanvoer. Hy het 13 veranderinge aangebring aan die beginspan wat Wallis geklop het, met Eben Etzebeth, Lood de Jager, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Morné van den Berg wat almal betyds van beserings herstel het. Sewe spelers wat teen Wallis uitgedraf het, behou hul plek in die groep van 23 met Aphelele Fassi en Cobus Reinach wat begin en vyf ander op die bank.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-88-sent teen die euro en 22-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-996-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-84-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….