Nuus 07:00
BULLETIN 10 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa wens Jacob Zuma ‘n spoedige herstel toe
# Byna een-miljoen Graad 12 leerders onderteken ‘n belofte om die eksamen se integriteit te handhaaf
# En, diewe steel 30-duisend bottels wyn van meer as 90-miljoen-rand in Italië
# President Cyril Ramaphosa het oudpresident Jacob Zuma ‘n spoedige herstel toegewens nadat bevestig is hy is in die hospitaal. Ramaphosa sê dokters behandel die 84-jarige Zuma en die militêre chirurg-generaal word oor sy toestand ingelig. Die uMkhonto weSizwe-party hou vol hy is in ‘n goeie luim en het sy hospitaalbesoek aanvanklik as ‘n roetine-ondersoek beskryf. Zuma se broer het egter bevestig die voormalige president is ongesteld en word steeds behandel. Geen amptelike besonderhede oor sy toestand is tot dusver bekend gemaak nie:
# Byna een-miljoen graad 12-leerders het ‘n belofte onderteken om eerlikheid en integriteit tydens die 2026-matriekeksamens te handhaaf. Die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het leerders gewaarsku teen bedrog, die afskryf van antwoorde, die gebruik van ongemagtigde elektroniese toestelle en die verspreiding van uitgelekte eksamenvraestelle. Die matriekeksamens begin Maandag en duur tot 26 November. Die ministerie se woordvoerder, Terence Khala, het ‘n beroep op leerders gedoen om vermoedelike bedrog of uitgelekte vraestelle aan te meld. Khala het ouers en gemeenskappe aangemoedig om matrikulante te ondersteun:
Intussen het president Ramaphosa ook die matriekklas van 2026 aangemoedig om hul eindeksamens met hierdie beginsels aan te pak. Tydens ‘n seremonie in QwaQwa, Vrystaat, waar die belofte vir die Nasionale Senior Sertifikaat onderteken is, het Ramaphosa leerders herinner om nie jare se harde werk en opoffering te skaad nie. Hy het hulle aangemoedig om in hulself te glo, mekaar te ondersteun en gefokus te bly. Hy het beklemtoon die land ondersteun hulle en het hulle sukses toegewens:
# Die voormalige uitvoerende hoof van Telkom, Sipho Maseko, is skuldig bevind aan versuim om belastingopgawes in te dien vir vyf maatskappye waar hy as direkteur gedien het. Die Palm Ridge-landdroshof het gehoor die maatskappye het versuim om 85 opgawes in te dien wat werknemersbelasting, BTW en korporatiewe inkomstebelasting oor etlike jare dek. ‘n Skulderkenningsboete van 85-duisend-rand is namens die maatskappye betaal, en alle uitstaande opgawes is sedertdien by die Inkomstediens ingedien. Die saak is deel van Project Honey Badger, ‘n gesamentlike inisiatief waarby die belastingowerheid, die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag betrokke is.
# Gholf: Die Skot Grant Forrest het halfpad deur die Spaanse Ope in Madrid ‘n voorsprong van een hou. Die 33-jarige het in die tweede ronde ‘n vier-onder-baansyfer 67 aangeteken vir ‘n algehele nege onder baansyfer. Sy landgenoot, Connor Syme en Joel Girrbach van Switserland deel die tweede plek op agt onder. Eugenio Chacarra van Spanje, wat ondanks ‘n gebreekte toon steeds speel, is saam met die Brit Joe Dean twee houe agter die voorloper. Die voormalige kampioen Sergio Garcia het teruggesak na vier onder baansyfer nadat hy ‘n ronde op baansyfer aangeteken het.
# En ten slotte: Diewe het 30-duisend bottels goeie wyn van meer as 90-miljoen-rand uit ‘n geskiedkundige wynkelder in Toskane, Italië gesteel. Sewe gemaskerde mans het glo sekuriteitstelsels ontkoppel voor hulle die bottels met die maatskappy se vurkhysers op twee vragmotors gelaai het. Die gesteelde wyn sluit in gesogte name soos Solaia, Tignanello en Guado al Tasso. Die diefstal is Maandag ontdek terwyl die wynkelder voorraad voorberei het vir versending na oorsese kopers. Die maatskappy het kliënte gewaarsku om versigtig te wees vir aanbiedinge buite amptelike verkoopskanale, terwyl die polisie ondersoek instel. Niemand is nog gearresteer nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….