Nuus 07:00
BULLETIN 19 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sal vandag vrae in die Parlement beantwoord, insluitend oor grondhervorming en leefstyloudits
# Oudpresident Trump is nie in staat om ‘n verband te verseker in sy siviele bedrogsaak nie
# En hokkie: Span SA onttrek aan die Afrika-spele oor die toestand van die veld
# President Cyril Ramaphosa sal vandag vrae beantwoord in die Nasionale Vergadering. Die president se verskyning sal ingevolge sy verpligting volgens parlementêre reëls, die vierde termyn van die parlementêre programsiklus voltooi. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa sien daarna uit om oor kritieke kwessies met die Nasionale Vergadering in gesprek te tree, en bevestig die regering se verbintenis om uitdagings aan te spreek en die mense se vooruitgang te bevorder:
# Die DA beweer die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het nie keuringsprosesse vir studente-akkommodasie aanlyn-portaal-diensverskaffers en geakkrediteerde agente openbaar gemaak nie. Dit volg nadat onthullings van onreëlmatighede en politieke bande in tenderkontrakte oopgevlek is deur die Organisasie teen Belastingmisbruik. Chantel King van die DA beskuldig maatskappye met politieke bande dat hulle die stelsel uitbuit en hulleself verryk ten koste van studente. Sy eis deursigtigheid en aanspreeklikheid van die skema:
# Die kommissie wat die dodelike brand in die Usindiso-gebou ondersoek, het gehoor die Stad Johannesburg, die Johannesburg Property Company en ander rolspelers moet strafregtelike optrede oor die tragedie verwag. Die kommissie ondersoek moontlike oorsake van die brand waarin 77 mense in Augustus verlede jaar dood is. Advokaat Nickle Felgate het aan die komitee gesê die stad moes tussen 2019 en 2023 inwoners uit die gebou sit, en dat daar geen brandbestrydingstoerusting in die gebou was nie. Hy voeg by JPC en die stad het nooit enige onderhoud gedoen nie.
# Die Noord-Kaapse Departement van Onderwys berig skole in Kimberley word nadelig geraak weens wateruitdagings in die provinsie. Die LUR, Zolile Monakali, sê gereelde sluitings dwing leerders om huis toe te gaan. Ouers en studentebeheerliggame werk daaraan om oplossings te vind, en gebeurlikheidsplanne word ingestel om te verseker die kurrikulum word sonder ontwrigtings gedek en voltooi:
# Oudpresident Donald Trump van Amerika se prokureurs sê dis byna onmoontlik om ‘n verband te kry om die 8,77-miljard-rand in die uitspraak in die New York-bedrogsaak te dek. Trump en uitvoerende hoofde by sy maatskappy, insluitend sy twee ouer seuns, is skuldig bevind dat hulle jare lank banke en versekeraars bedrieg het deur hulle rykdom op finansiële state op te jaag om lenings te kry en ooreenkomste aan te gaan. Sy prokureurs sê hulle het 30 maatskappye genader om die verband te onderskryf, maar sonder sukses. Trump appelleer teen die uitspraak.
# Hokkie: Span Suid-Afrika het sy mans- en vrouespan aan die 13de Afrika-spele onttrek wat tans in Akkra, Ghana, aan die gang is. Dit volg na aanbevelings en riglyne van die Internasionale Hokkiefederasie. Span Suid-Afrika se leier, Patience Shikwambana, sê die hokkieveld se oppervlak is nie geskik vir ʼn internasionale kompetisie nie. Sy sê hulle kan nie toelaat dat spelers wat in Augustus aan die Olimpiese Spele in Parys wil deelneem, moontlik beseer word nie.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-286-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-160-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….