Nuus 07:00
BULLETIN 15 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering word aanvaar met die oog op ‘n meer mededingende elektrisiteitsmark
# Die hof sal vandag ‘n aansoek aanhoor om die uitsending te keer van die Thabo Bester-dokumentêr
# En, SpaceX verloor Starship – die grootste en kragtigste ruimtetuig wat ooit gebou is
# Die Nasionale Vergadering het die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering bekragtig met 234 stemme daarvoor, insluitend die DA en ANC, en 25 daarteen. Die wetsontwerp maak voorsiening vir die stigting van ‘n staatsbeheerde transmissie-stelseloperateur wat onder meer ʼn opemark-platform sal skep om mededingende handel in elektrisiteit moontlik sal maak. Die minister van Minerale Bronne en Energie, Gwede Mantashe, sê die wetsontwerp sal die elektrisiteitsektor se struktuur vir toekomstige geslagte radikaal hervorm:
# Die minister in the Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet het die stigting goedgekeur van ‘n Verenigde Nasies-habitatgrondprogram en -kantoor in Suid-Afrika. Dit sal die land se prioriteite steun met ruimtelike transformasie, stedelike ontwikkeling, behuising en volhoubare menslike nedersettings. Ntshavheni voeg by VN-habitat sal beleid, programontwikkeling, kapasiteitsbou en opleidingsteun verskaf en saamwerk met belanghebbers op spesifieke projekte:
# Thabo Bester en Nandipha Magudumana se aansoeke wat op die nippertjie ingedien is om te verhoed dat Showmax die dokumentêr van vier episodes, Tracking Thabo Bester, uitsaai, word vandag in die Hooggeregshof in Johannesburg aangehoor. Die Facebook-verkragter en moordenaar Bester en sy vriendin Magudumana het elkeen die hof genader om te keer dat die dokumentêr uitgesaai word en voer aan dit bedreig hulle regte. MultiChoice sê die bewerings teen die twee is ernstig en Showmax glo dis noodsaaklik dat kykers geleentheid kry om die dokumentêr te kyk en hulle eie ingeligte menings vorm.
# Die Economic Liberators Forum South Africa het die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, se geskeduleerde inspeksie van die Rooiwal-afvalwaterbehandelingsaanleg in Hammanskraal verwelkom. Die besoek was om vordering oor geïdentifiseerde kwessies te evalueer, insluitend verbeterde afvalwaterbehandeling en watergehalte vir inwoners. Die forumpresident, Hulisani Mani, het egter die Stad Tshwane gekritiseer omdat hulle wateruitdagings verwaarloos het. Mani vra vir aanspreeklikheid sowel as die verskaffing van watertenkwaens aan inwoners wat geraak is:
# Gholf: Kylie Henry van Skotland het drie-onder-baansyfer 71 aangeteken om haar voorsprong vandag op die laaste dag van die Vroue Ope by die Royal Cape in Kaapstad te vergroot. Die Suid-Afrikaners Casandra Alexander en Gabrielle Venter is Henry se naaste teenstanders op vyf-onder-baansyfer. Die wenner van die SuperSport-damesuitdaging, Tvesa Malik van Indië, is op vier-onder baansyfer gelykop vierde saam met Emie Peronnin van Frankryk en Florentyna Parker van Engeland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-146-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-162-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-18-sent per vat.
# En om mee af te sluit: SpaceX het sy Starship verloor, waarskynlik nadat dit aarde-toe geval het en in die Indiese Oseaan beland het. Dit het ‘n einde gebring aan ‘n andersins suksesvolle lansering, nadat twee vroeëre toetse na ‘n paar minute ontplof het. In ‘n derde poging gister het Starship suksesvol geskei van sy aanvuurder, die ruimte bereik en halfpad om die aarde gevlieg. Starship, die grootste en kragtigste vuurpyl wat ooit gebou is, is lanseer vanaf Texas, naby die grens met Meksiko. Daar was nie mense of satelliete aan boord nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….