Nuus 07:00
BULLETIN 3 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid sê daar is geen verdraagsaamheid vir korrupsie by die grense nie
# Die Suid-Afrikaanse vervaardigingsektor het in September weer gegroei
# En rugby: Edinburgh klop die Stormers in ‘n taai Verenigde Rugbykampioenskaps-kragmeting
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê korrupsie by Suid-Afrika se grensposte sal nie geduld word nie. Masiapato het tydens ‘n teenkorrupsieveldtog by die OR Tambo-internasionale Lughawe in Gauteng gesê korrupsie waarby grensbeamptes betrokke is, bly ‘n ernstige bekommernis. Hy sê die owerheid en ander belanghebbendes het hulle daartoe verbind om saam te werk om korrupsie te bekamp en integriteit by die land se toegangspoorte te versterk:
# Die Suid-Afrikaanse Gemeenskap van Geloofsgebaseerde Broederskappe en Federasies sê hy bied pastorale, emosionele en praktiese ondersteuning aan gesinne wat deur die onlangse massa-skietvoorvalle in KwaMakhutha in KwaZulu-Natal, Lwandle in Kaapstad en Wedela in Gauteng geraak is. Die skietvoorvalle het 40 lewens geëis en met talle wat beseer is. Die president van die groep, Bert Pretorius, sê pastore sal voortgaan om betrokke gesinne ook ná die begrafnisse te ondersteun deur berading te bied, met die rouproses by te staan en die trauma te verwerk:
# Die Absa-aankopebestuurdersindeks is ná drie maande van inkrimping, terug op groeivlakke en het in September met 4,9-punte tot 50,7-gestyg. Aankope-bestellings het ook verbeter, terwyl sakebedrywighede skerp herstel het. Indiensneming het egter verswak, en vervaardigers het steeds te kampe met hoër brandstof-, vervoer- en insetkoste. Vertragings by die Durban-hawe in KwaZulu-Natal het ook die lewering van voorrade beïnvloed. Die vooruitsigte het effens verbeter, met aankopebestuurders wat versigtig optimisties is oor sake-omstandighede vir die volgende ses maande.
# Kaapstad het planne aangekondig om sy ikoniese onvoltooide snelweg te hervorm met ‘n nuwe brug, tonnel, promenade en woonbuurt. Die burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die projek sal verkeersopeenhoping verlig en ongeveer 15 hektaar grond vir behuising, openbare ruimtes en ekonomiese ontwikkeling beskikbaar maak. In die eerste fase sal ‘n nuwe brug oor Buitengracht gebou en die inkomende snelweg verbreed word, om dit direk met die Helen Suzman-rylaan te verbind. In die tweede fase sal die uitgaande roete ondergronds verskuif en die bestaande oorhoofse snelweg gesloop word om plek te maak vir ‘n nuwe waterfrontpromenade en woonbuurt.
# Volgens die Europese Unie se Copernicus-klimaatdiens het meer as die helfte van Europa gedurende die somer baie sterk hittestres ervaar. Die rekord-syfer van 52-persent beteken dat mense oor meer as die helfte van die vasteland toestande ervaar het wat soos 38-grade Celsius gevoel het. Wes-Europa het sy warmste somer ooit beleef, met baie sterk hittestres wat op 13 dae aangeteken is. Hittestres ontstaan wanneer hoë temperature en humiditeit die liggaam verhoed om behoorlik af te koel, wat die risiko van hitteberoerte en ander gesondheidsprobleme verhoog.
# En rugby: Die Stormers het gisteraand in hul tweede Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd op die Hive-stadion met 17-13 teen Edinburgh verloor. Edinburgh het rustyd met 3-0 voorgeloop voor twee strafskoppe deur die losskakel, Yaqeen Ahmed, die Stormers vroeg in die tweede helfte weer die voortou laat neem het. Paul Hill het daarna vir Edinburgh ‘n drie gedruk, waarna die Stormers se agsteman, Hacjivah Dayimani, die voorsprong met ‘n drie herstel het. Edinburgh se heelagter, Rory McHaffie, het egter sewe minute voor die eindfluitjie die beslissende drie gedruk, waarna James Grayson dit verdoel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….