Nuus 07:00
BULLETIN 13 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwerp die goedkeuring van die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake
# Cosatu vra vir soberheid en respek vir die kieswette
# En die VN se Wêreldvoedselprogram lewer vir die eerste keer in weke kos in Gaza
# Die Nasionale Vergadering het die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake met 240 stemme teen 90 goedgekeur. Die wetgewing verander die befondsingsformule van die regering aan politieke partye en onafhanklike kandidate in wetgewers. Dit maak skenkings om politieke invloed en guns te verkry ‘n oortreding, strafbaar met ‘n boete, gevangenisstraf, of albei. Die ANC, EFF en National Freedom Party het ten gunste van die wetsontwerp gestem. Dit sal nou aan die Nasionale Raad van Provinsies voorgelê word vir instemming.
Die DA sê intussen hy verwerp die goedkeuring van die Wysigingswetsontwerp en beskryf dit as ‘n poging om meer openbare en skenkerfondse na die ANC te kanaliseer. Adrian Roos van die DA sê die wysigings het niks te doen met die insluiting van onafhanklike kandidate nie:
# Die vakbondfederasie Cosatu doen ‘n beroep op alle politieke partye en kandidate om in die aanloop tot die verkiesing van 29 Mei by die Kieswet te hou. Hulle waarsku teen intimidasie-taktieke en dreigemente van burgeroorlog, en moedig owerhede aan om die wet af te dwing en ‘n vreedsame verkiesingsproses te verseker. Dit volg ná verskeie voorvalle van wangedrag, insluitend dreigemente deur die MK-party en die EFF. Matthew Parks van Cosatu doen ‘n beroep op die Onafhanklike Verkiesingskommissie, die Verkiesingshof én die polisie, om streng op te tree teen enige oortreders.
# Die Stad Johannesburg se Speaker van die Metroraaraad, Margaret Arnolds, veroordeel die voortslepende wapengeweld en sinnelose moorde in gebiede soos Riverlea, Newclare, Westbury en Eldoradopark. Sy is diep bekommerd oor die aantal voorvalle, insluitend die onlangse skietery in Westbury waarin die gemeenskapsaktivis, Ashwyn McCabe, gesterf het. Arnolds het ‘n beroep gedoen vir ‘n einde aan die geweld en sê genoeg is genoeg. Sy het wetstoepassingsagentskappe versoek om die oorsake van vuurwapengeweld aan te spreek, en veiliger ruimtes vir jeugontwikkeling en gemeenskappe te verseker.
# Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram sê hy het gister genoeg kos vir 25-duisend mense in Gaza-stad afgelewer. Dit was die eerste suksesvolle konvooi sedert die 20ste van verlede maand. Die agentskap het die aflewering van kos in Gaza opgeskort omdat konvooie onlangs onder volslae chaos, geweld en gewelddadige plundering deurgeloop het weens die ineenstorting van openbare orde. Meer as ʼn 100 Palestyne is verlede week dood toe skares op ʼn konvooi afgestorm het. Die VN-agentskap sê enige kos en ander noodhulp wat Gaza bereik, is dringend noodsaaklik.
# Gholf: Die PGA-reeks se kommissaris, Jay Monahan, sê onderhandelings word versnel om die raamwerkooreenkoms met Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds of PIF af te handel. Die PGA-reeks, DP-wêreldreeks en die PIF wat LIV Golf befonds, het in Junie verlede jaar ʼn raamwerkooreenkoms aangekondig om een entiteit vir handelsbates te vorm. Monahan sê hulle wil die beste moontlike uitkoms bewerkstellig vir die PGA-reeks en die sport:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-999-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-160-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….