Nuus 07:00
BULLETIN 21 November 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê die magte- en voorregtekomitee se verhore is ‘n boendoehof
# Uitspraak word verwag in die Kusile-vertragingsaak van 2,2-miljard-rand
# En, die Afrika-unie se voorsitter noem Israel se optrede in Gaza onverskoonbaar
# Die EFF sê hy sal die hof nader om ʼn interdik te kry teen wat hy noem die skynverhore van die Bevoegdhede- en Voorregtekomitee. Die komitee het gister sy verhoor oor die voorval tydens die Staatsrede begin, waar EFF-parlementslede die verhoog bestorm het toe hulle beveel is om die saal te verlaat. EFF-leier Julius Malema sê die proses is net ʼn wapen om president Cyril Ramaphosa te verdedig. Hy het ook advokaat Anton Katz, die inleier wat die Parlement aangestel het, aangeval:
# Die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Middelburg, Mpumalanga, besluit vandag of daar ‘n onredelike vertraging was in die saak van 2,2-miljard-rand van die Kusile-kragstasie. Die saak spruit uit bewerings van korrupsie met ‘n tender. Die beskuldigdes sluit in die voormalige tussentydse uitvoerende hoof van Eskom, Matshela Koko, sy vrou en twee stiefdogters, en prokureur, Johannes Coetzee. Landdros Stanley Jacobs het in Maart bepaal die Ondersoekdirektoraat moet gereed wees om in September met die verhoor voort te gaan, maar hulle het weer uitstel gevra. Regsverteenwoordigers het daarop gevra dat die aanklagte teruggetrek word.
# Die Batebeslagleggingseenheid in Mpumalanga sê hy het ʼn voorlopige bewaringsbevel van eiendom in die Mbombela-hooggeregshof gekry om beslag te lê op bates ter waarde van meer as 1,5-miljard-rand. Dit volg na ʼn ondersoek deur die polisie se spesialiseenheid oor onwettige mynbedrywighede, die Departement van Minerale Bronne en Energie, en ander wetstoepassingsagentskappe. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Monica Nyuswa, sê die bates sluit in ʼn plaas in die Carolina-distrik, swaar mynmasjinerie en steenkool-hope:
# Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Thembisile Patekile, sê pogings om ernstige geweldsmisdade te bekamp gaan voort ten spyte van uitdagings. Hy het gister provinsie-spesifieke misdaadsyfers vir die tweede kwartaal van 2023/2024 bekend gemaak. Moorde het op ʼn jaar-tot-jaar-basis tussen Julie en September met 10,9-persent toegeneem. In dié drie maande is een-duisend-164 moorde in die provinsie aangemeld. Patekile sê bydraende faktore sluit in bendegeweld, afpersing en die misbruik van dwelms en alkohol. Hy sê hulle gaan bykomende wetstoepassings- en veiligheidsagentskappe in brandpuntgebiede ontplooi en die Teenbende-eenheid versterk.
# Die Afrika-unie sê Israel se reaksie op Hamas se dodelike aanval verlede maand is onverskoonbaar en waarsku burgerlike ongevalle sal verdere ekstremisme aanmoedig. Meer as 14-duisend mense is dood sedert die konflik tussen Israel en Palestina verlede maand begin het. Die voorsitter van die Afrika-unie, Azali Assoumani, sê hulle veroordeel alle optrede wat burgerlikes en veral kinders benadeel. Hy doen ʼn beroep dat ʼn diplomatieke oplossing gevind word en beklemtoon daar sal geen vrede wees tensy ʼn tweestaat-oplossing bereik word nie.
# Rugby: Die voorsitter van die Walliese Rugbyunie, Richard Collier-Keywood, het beloof die beheerliggaam sal volgende jaar ʼn omvattende strategie instel. Dit volg nadat ʼn onafhanklike ondersoek bevind het sekere aspekte van die unie se kultuur is seksisties, rassisties, homofobies, haat vroue en word nie behoorlik hanteer nie. Die verslag het ook bevind daar is elemente van afknouery en diskriminasie in die unie. Collier-Keywood het aan die BBC gesê hulle moet openlik wees oor wat voortaan aanvaarbaar is in die organisasie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-28-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-602-dollar-13-sent. Die prys van goud is een-duisend-989-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….