Nuus 07:00
BULLETIN 4 Augustus 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die tussentydse begroting sal fondse bevat vir die bekamping van geslagsgeweld
# Suid-Afrika se vervaardigingsektor bly onder druk
# En rugby: Die Stormers sê die voorbereiding vir die All Blacks was ‘n uitdaging
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring sal fondse beskikbaar stel vir die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord. Die ANC-vroueliga het gister ‘n plakkaat-betoging buite Nasionale Tesourie se kantoor in Tshwane gehou, en gevra dat hulpbronne dringend toegeken word om geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp. President Cyril Ramaphosa het verlede jaar geslagsgeweld as nasionale ramp verklaar. Godongwana het aan die SABC gesê talle werksrigtings is tans daarmee besig:
# Die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank het die publiek genooi om kommentaar te lewer oor ‘n konsephandleiding wat nuwe reëls vir oorgrens-kriptobatetransaksies voorstel. Die maatreëls is daarop gemik om toesig te versterk, onwettige finansiële vloei te verminder en leiding te bied vir gemagtigde kriptodiensverskaffers. Die konsep verduidelik ook wanneer kriptotransaksies as oorgrens beskou word. Ingevolge die voorstel sal slegs individue toegelaat word om kriptobates oorsee oor te dra binne bestaande buitelandse beleggingsbeperkings deur gemagtigde verskaffers.
# Suid-Afrika se vervaardigingsektor het verlede maand onder druk gebly, met die Absa-aankoopbestuurdersindeks wat van 47,3-punte tot 46,8-punte gedaal het, vir ‘n vierde agtereenvolgende maand onder die neutrale 50-punte vlak. Die opname toon egter sterker binnelandse aanvraag wat produksie vir ‘n tweede agtereenvolgende maand ‘n hupstoot gegee en kostedruk verlig het. Vervaardigers bly versigtig, met swak uitvoervraag, laer sakevertroue en kommer oor hoër brandstofpryse wat die vooruitsigte demp.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het ʼn interregeringsgeskil verklaar met die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, om die Metropolisie se magte uit te brei om misdaadondersoeke in te sluit. Hy sê wanneer ʼn metro-polisiebeampte op ʼn onwettige wapen beslag lê, moet die stad die gesag hê om ʼn suksesvolle dossier saam te stel sodat aanklaers ʼn skuldigbevinding kan verkry. Hill-Lewis sê die Grondwet maak voorsiening dat misdaadondersoeke in plaaslike regering se polisiëring-sfeer mag plaasvind:
# Rusland se ministerie van Buitelandse Sake beskuldig die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie en die Europese Unie dat hulle “terroriste-aktiwiteite” borg. Dit volg nadat ʼn strand in die vakansiedorp, Gelendzhik langs die Swartsee, gister deur ʼn vermeende Oekraïnse hommeltuig getref is. Sewe mense, insluitend drie kinders, is dood en 40 ander beseer. Die ministerie se woordvoerder, Maria Zakharova, sê NAVO en die EU het onlangs ʼn beleid van geen verdraagsaamheid teenoor terrorisme verklaar, maar nou is hulle deel van internasionale terroriste-bedrywighede. Oekraïne het nog geen kommentaar oor die aanvalle gelewer nie.
# Rugby: Die Stormers se voorry-afrigter, Rito Hlungwani, sê die omvang van die uitdaging en geleentheid om teen Nieu-Seeland te speel, het opofferings vereis wat die spelers bereid was om te maak. Die Stormers het pas begin voorberei vir die Vodacom Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen wat einde September afskop. Hlungwani sê in ʼn gewone af-seisoen sou hulle nou eers met die voorseisoen-voorbereiding begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-803-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-55-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….