Nuus 07:00
BULLETIN 21 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof stel die sperdatums vir die MK-party se saak teen Ramaphosa
# FlySafair sê die vlieënierstaking sal nie sy diens ontwrig nie
# En Gauteng open Donderdag sy aanlyn toelatings vir graad 1 en 8 vir 2026
# Hoofregter Mandisa Maya het sperdatums gestel in die MK-party se regsuitdaging van president Cyril Ramaphosa se besluit om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas. Die party sê Ramaphosa se besluit is irrasioneel en teenstrydig met die Grondwet se bepalings en presidensiële ampseed. Maya sê partye wat die MK-party wil ondersteun, moet vandag hulle aansoeke indien. Partye wat teen die hofaansoek gekant is, het tot môre tyd om hul beëdigde verklarings in te dien.
# FlySafair het passasiers verseker daar sal geen vlugonderbrekings wees wanneer vlieëniers, wat hoofsaaklik deur Solidariteit verteenwoordig word, vandag begin staak nie. Die lugredery se finale meerjarige loonaanbod sluit ‘n salarisverhoging van 5,7-persent in asook bykomende aanpassings aan die vergoedingspakket. Solidariteit eis egter ʼn salarisverhoging van 10,5-persent vir 2025/2026. FlySafair se hoofbemarkingsbeampte, Kirby Gordon, het aan die SABC gesê sy huidige loonaanbod en roosteraanpassings is regverdig:
# Die GOOD-party het die besluit van die Minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson verwelkom om die verslag van die Raad vir die Geboude Omgewing oor die instorting van die gebou in George bekend te maak. Die party sê noudat die verslag in die openbare omgewing bekend is, is daar nie langer regverdiging om dit van die Munisipaliteit van George te weerhou nie. Chantelle Kyd van die party sê die verslag moet dringend aan die speaker en by die raad ter tafel gelê word:
# Die Gautengse Onderwysdepartement se aanlyn aansoeke vir graad 1 en graad 8 se toelating vir 2026 open Donderdag. Die sluitingsdatum is 29 Augustus om middernag. Die departement beraam dat ongeveer 70-duisend leerders in die provinsie vir graad R ingeskryf is by sentrums vir vroeëkinderjare-ontwikkeling. Die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê tot op hede is daar by alle laerskole graad R-klaskamers beskikbaar, behalwe by 54 waar plek ʼn probleem is:
# Ten minste 14 mense is dood in oorstromings en grondstortings na dae van gietende reën in Suid-Korea. Die land se rampbeheerkantoor sê hulle vrees die dodetal kan styg terwyl reddingspogings voortduur, met 12 mense wat as vermis aangegee is. Byna 10-duisend mense in die streek is uit hulle huise ontruim nadat die reën Woensdag begin het, en meer as 41-duisend huishoudings is tydelik sonder krag. President Lee Jae-myung het Sondag die gebiede wat die ergste getref is, as spesiale rampsones verklaar en die regering het met ‘n multi-agentskap-herwinningsoperasie begin.
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-kampioen, Marc Marquez, het met sy sege by die Tsjeggiese Grand Prix die eerste Ducati-renjaer geword wat vyf agtereenvolgende hoofwedrenne wen. Marco Bezzecchi van Aprilia Racing is tweede en Pedro Acosta van Red Bull KTM Factory Racing is derde. Marquez het sy kampioenskapsvoorsprong bo sy teenstander en jonger broer, Alex, tot 120 punte vergroot nadat Alex in die tweede ronde uitgeval het. Die Suid-Afrikaner Brad Binder het negende klaargemaak. Marquez sê hy voel goed oor hierdie seisoen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-972-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-356-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….