Nuus 06:00
BULLETIN 19 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kaapse Onafhanklikheidsparty verloor sy aansoek om op die stembrief te verskyn
# Die Openbare Beskermer moet vandag die redes indien vir haar besluit oor Busisiwe Mkhwebane se bonus
# En die VSA en Brittanje stel nuwe sanksies teen Iran in
# Die Kaapse Onafhanklikheidsparty het sy teleurstelling uitgespreek nadat die Verkiesingshof sy aansoek van die hand gewys het om op die finale kandidatelys vir die verkiesing te verskyn. Die party was onder vyf applikante wat die hof genader het. Die partyleier, Jack Miller sê ondanks die voorlegging van altesaam elf-duisend-114 handtekeninge aan die Verkiesingskommissie, waarvan meer as sewe-duisend-500 geregistreerde kiesers in die Wes-Kaap is, het die hof steeds teen hulle beslis:
# Die Kantoor van die Openbare Beskermer moet, ingevolge ‘n Hooggeregshof-bevel, vandag die redes voorlê waarom die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, nie tien-miljoen-rand moet ontvang nie. Vertragings in Mkhwebane se dringende aansoek volg nadat die kantoor versuim het om dokumente betyds te verskaf. News24 berig regter Colleen Collis het die skuld vir die vertraging deur die kantoor bevestig. Die hof het die kantoor opdrag gegee om Mkhwebane se koste te dek. Haar aansoek om die nie-betaling te betwis, sal in die komende weke afgehandel word.
# ‘n Afgetrede Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag-generaal, Mendis Eddy Mondlane, is borgtog van vyf-duisend-rand in die Pretoriase Handelsmisdaadhof toegestaan. Die Nasionale Vervolgingsgeag se streekswoordvoerder, Lumka Mahanjana sê Mondlane en sy medebeskuldigde, Mugisha Charles Mwali, staar bewerings van tenderongerymdhede ter waarde van twee-miljoen-rand in die gesig. Daar is drie aanklagte van bedrog teen Mondlane, terwyl Mwali een bedrogklag teen hom het. Mahanjana het bevestig Mwali is uit op borgtog van vyf-duisend-rand:
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink sê tegniese spanne werk onverpoos om die oorsaak vas te stel van die Mooikloof-substasiebrand. Dele van Pretoria-Oos is sedert Woensdagaand sonder krag nadat een van die substasie se transformators aan die brand geslaan het en die Nyala-toevoerstasie laat uitskakel het. Gebiede wat geraak word, sluit in dele van Moreleta Park Mooikloof, Pretoria-Oos-hospitaal, en Woodhill asook die Plastic View- informele nedersetting. Brink sê die skade is groot, daarom is dit nie moontlik om te sê wanneer die krag herstel sal word nie:
# Die VSA en Brittanje het nuwe sanksies teen Iran ingestel ná sy grootskaalse hommeltuig- en missielaanval op Israel. Washington se sanksies teiken 16 mense en twee maatskappye wat enjins vir Iran se hommeltuie vervaardig. Die Britse kantoor van Buitelandse Sake het ‘n reisverbod opgelê en die bates bevries van sewe individue en ses entiteite, insluitend diegene wat betrokke is by hommeltuig- en missielprogramme. Die Amerikaanse president Joe Biden sê leiers van die G7-groep is daartoe verbind om gesamentlik ekonomiese druk op Iran te verhoog.
# Krieket: Die voormalige Australiese kolwer, Stuart Law, sal mede-gasheer, Amerika voorberei vir die T20 Wêreldbeker in die Verenigde State en die Karibiese Eilande. Die 55-jarige is as hoofafrigter aangestel ná tye by Sri Lanka, Bangladesj, die Windies en Afghanistan. Hy sal volgende maand die voorbereidings begin met ‘n T20-reeks van drie tuiswedstryde teen Bangladesj. Die Wêreldbeker-toernooi skop af met die openingswedstryd tussen Amerika en Kanada in Dallas op die tweede Junie, met die eindstryd op die 29ste in Bridgetown, Barbados.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-985-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-394-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….