Nuus 06:00
BULLETIN 15 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê sy ergste vrese het waar geword ná Iran se aanval op Israel
# Die Grensowerheid onderskep meer as 281-duisend mense wat probeer om die land onwettig binne te kom
# En beurtkrag bly opgeskort tot verdere kennisgewing
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika het vroeg reeds gewaarsku dat tensy daar ‘n wapenstilstand tussen Israel en Palestina bereik word, die situasie na ander streke sal uitbrei. Iran het Saterdag ‘n aanval op Israel van stapel gestuur. Die aanval was in weerwraak op Israel se aanval op Iran se konsulaat in Sirië, wat die lewens van sewe Iranse offisiere geëis het. Ramaphosa het tydens ‘n ANC-verkiesingsveldtog in Orange Farm, Gauteng, gesê sy ergste vrese het waar geword:
# Die Grensbestuursowerheid se kommissaris, Michael Masiapato, sê hulle het meer as 281-duisend mense by die 71 grensposte oor die Pase onderskep, wat probeer het om Suid-Afrika onwettig binne te kom. Masiapato sê ondanks die vermindering in die aantal vervoeragente wat onwettige immigrante ingebring het, is agt boetes van 270-duisend rand aan busmaatskappye opgelê wat onwettige migrante vervoer het:
# Beurtkrag bly opgeskort tot verdere kennisgewing. Vandag is die 19de agtereenvolgende dag sonder beurtkrag – dit is die langste periode sonder onderbrekings tot dusver vanjaar. Eskom sê dit is te danke aan die volgehoue beskikbaarheid van opwekkingsvermoë en noodreserwes by sy kragstasies. Die kragvoorsiener sê twee-duisend-150 megawatt se opwekkingsvermoë sal na verwagting teen vandag herstel word.
# ‘n Spesiale, onafhanklike ondersoekkomitee sal ‘n ondersoek na die Stad Johannesburg se Departement van Forensiese en Ondersoekdienste lei. Advokaat Pule Seleka sal aan die hoof wees. Verlede jaar is in ’n verslag bevind daar is onreëlmatighede in van die ondersoeke deur die afdeling. Die speaker van die metroraad, Margaret Arnolds, sê sy is vol vertroue dat die komitee die bewerings sal oopvlek:
# Tennis: Stefanos Tsitsipas van Griekeland het sy derde Monte Carlo-meesterstitel in vier jaar gewen en die vyfde speler geword om drie of meer titels in dié Prinsdom te verower. Hy het die Noorweër Casper Ruud met 6-1 en 6-4 huis toe gestuur. Die 25-jarige het uitstekend gespeel in Monte Carlo, deur die toptien-spelers, Alexander Zverev van Duitsland en Jannik Sinner van Italië te klop op pad na die eindstryd. Die oorwinning bring mee dat Tsitsipas vir die eerste keer sedert Februarie na die toptien op die wêreldranglys terugkeer en die sewende plek inneem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-242-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-354-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-31-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad het besonderhede bekend gemaak van die metro se bestemmings-reisveldtog wat in China bekendgestel gaan word. Die stad teiken verskeie stede regdeur China via WeChat. Nagenoeg 151-duisend Chinese toeriste het in 2013 die land besoek. Dit het die jaar daarna tot 83-duisend gesak. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê na die heropening van grense na Covid-19, het net meer as 34-duisend Chinese besoekers tussen Januarie en November verlede jaar hulle weg na Suid-Afrika gevind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….