Nuus 06:00
BULLETIN 12 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nzimande het die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente ontbind
# Rugby: ‘n Meevaller van R4,6-miljoen vir die Bulle ongeag die uitslag van die Kampioenebeker-kwarteindstryd
# En Ron Goldman se pa sê OJ Simpson se heengaan is nie ‘n groot verlies vir die wêreld nie
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande het die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente met onmiddellike ingang ontbind. Hy het ook die skema onder administrasie geplaas. Dit volg ná die bedanking van die raadsvoorsitter, Ernest Khosa. Nzimande se woordvoerder, Veli Mbele, sê die minister het gister met die raad vergader en sy besluit oorgedra. Dit verskyn vandag in die Staatskoerant:
Khosa sê intussen hy het bedank weens vrese oor sy en sy gesin se veiligheid. OUTA het hom en Nzimande daarvan beskuldig dat hulle miljoene rand se gunslone ontvang het van die skema se diensverskaffers. Hulle het die bewerings ontken. Hy sê hy wou in Januarie bedank maar dit sou gelyk het soos ‘n skulderkenning.
# Die pasverkose ANC-burgemeester van Ekurhuleni, Nkosindiphile Xhakaza sê sy grootste prioriteit is om volhoubare basiese dienste regoor die metro te verseker. Hy is die vierde burgemeester wat in minder as vier jaar vir die metro verkies is. Hy vervang die African Independent Congress se Sivuyile Ngodwana wat verlede maand in ‘n mosie van wantroue uitgestem is. Xhakaza sê hy is vol vertroue dat hy die metro kan omdraai in samewerking met ‘n veelparty-regering:
# Die Hooggeregshof in Polokwane, Limpopo, het die vyf mans wat skuldig bevind is aan die moord op die Collins Chabane-burgemeester, Moses Maluleke tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy is in Julie 2022 by sy huis in die nedersetting Xikundu vermoor terwyl sy seun by hom was. Adjunkregterpresident Matsaro Semenya het die vyf mans ook elk tot tien jaar gevonnis vir poging tot moord, 15 jaar vir sameswering tot roof, en vyf jaar vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Die Nasionale Vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom.
# Rugby: Môre se kwarteindstryd in die Kampioenebeker teen die Northampton Saints sal ‘n welkome meevaller vir die Bulle besorg. Al die kaartjies vir die wedstryd op Franklin Gardens is uitverkoop, wat beteken die twee spanne deel die inkomste daaruit. Die span van Pretoria gaan dus 4,6-miljoen-rand uit die kragmeting verdien, ongeag die uitslag. ‘n Aantal kenners meen die Bulle staan slegs ‘n geringe kans vir ‘n oorwinning weens hul lang reis na Brittanje en min tyd om by die onbekende speeltoestande aan te pas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-9-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-190-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-385-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Fred Goldman sê die afsterwe van OJ Simpson versterk net die hartseer oor sy seun, Ron. Sy liggaam is in Junie 1994 in Los Angeles met steekwonde aangetref saam met sy vriendin, Simpson se eksvrou, Nicole Simpson Brown. Die voormalige voetbalster, OJ is vrygespreek van die moorde en hy is nou op 76 aan kanker oorlede. Goldman sê Simpson se heengaan is nie ‘n groot verlies vir die wêreld nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….