Nuus 06:00
BULLETIN 10 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party verwelkom die Verkiesingshof se uitspraak oor Jacob Zuma se kandidatuur
# Die Regterlike Dienskommissie is nie in staat om kandidate vir ‘n Konstitusionele Hof-pos aan te beveel nie
# En netbal: Transgender-vroue word uit internasionale vrouekompetisies verban
# Die uMkhonto weSizwe Party het die beslissing van die Verkiesingshof verwelkom om die besluit van die Verkiesingskommissie tersyde te stel om oudpresident Jacob Zuma te verbied om ‘n parlementêre setel te betwis. Die OVK het aangevoer Artikel 47 verhinder Zuma om ‘n parlementslid te word omdat hy 15 maande tronkstraf opgelê is weens minagting van die hof. MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, het aan die SABC gesê dit is ‘n groot oorwinning vir die party voor die verkiesing:
# Die Regterlike Dienskommissie sê hy kon net drie geskikte kandidate vind om die vakature by die Konstitusionele Hof te vul en nie die vereiste vier nie. Regters Tati Makgoka en Ashton Schippers van die Appèlhof, advokaat Alan Dodson, en regsprofessor David Bilchitz, is onderhoude toegestaan. Die kommissie sê ná beraadslaging het hy bevind een van die kandidate het nie aan die vereistes voldoen nie. Die pos sal nou weer geadverteer word.
# RISE Mzansi sê hy is bekommerd oor die misdaadvlakke en geweldsdade in Gauteng. In die jongste voorval is twee onderwysers verlede week in Vanderbijlpark en Daveyton doodgeskiet. Die provinsiale kwartaallikse misdaadstatistiek toon dat een-duisend-787 mense tussen Oktober en Desember verlede jaar in die provinsie vermoor is. Tebogo Moalusi van RISE Mzansi sê Gauteng word in ’n bende-staat omskep deur diegene wat geen respek vir die gereg het nie:
# Die Europese Menseregtehof het gister beslis Switserland se versuim om die klimaatskrisis behoorlik te takel, is ‘n skending van menseregte. Meer as twee-duisend Switserse vroue, die meeste van hulle in hulle sewentigs, het die saak teen die Switserse regering aanhangig gemaak. Hulle voer aan die hittegolwe wat klimaatverandering aanvuur, ondermyn hulle gesondheid en lewensgehalte en verhoog hulle risiko om dood te gaan. Dié beslissing is die eerste een van die hof oor klimaatregsoptrede. Daar is nie ‘n reg op appèl nie en die uitspraak is wetlik bindend.
# Netbal: Transgender-vroue mag nie meer aan internasionale kompetisies vir vroue deelneem nie. Dit vorm deel van Wêreldnetbal se nuwe beleid ten opsigte van deelname en inklusiwiteit. Hulle het na uitgerekte raadpleging tot die slotsom gekom dat internasionale vrouenetbal deur die geslag van deelnemers bepaal word en die beleid is nodig om regverdigheid en veiligheid te verseker. Dit beteken die vrouespel word op internasionale vlak beperk tot spelers wat by geboorte ‘n vrou was of transgender-atlete wat kan bewys hulle het nog nooit die biologiese uitwerking van testosteroon ervaar nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-857-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-347-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Ekurhuleni gedenk vandag die 31ste herdenking van die dood van die anti-apartheidsikoon, Chris Hani, met ‘n kranslegging by die Thomas Nkobi-gedenkpark. Hani is op 10 April 1993 buite sy huis in Boksburg vermoor. Die stad het hom in 2006 die Vryheid van die Stad toegeken en besluit hy sal elke jaar in April gedenk word. Hani het ‘n deurslaggewende rol gespeel ter voorbereiding vir die eerste demokratiese verkiesing. Hy was die leier van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en stafhoof van uMkhonto we Sizwe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….