Nuus 06:00
BULLETIN 22 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa dank die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane af
# Solidariteit sê FlySafair vertraag die onderhandelinge
# En Julius Malema se vuurwapensaak word uitgestel vir uitspraak
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, afgedank. Dit volg ná maande van omstredenheid oor die aanstelling van die voorsitters van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid. In Junie het Nkabane aan die Parlement gesê haar aanstelling van die 21 Seta-voorsitters is gelei deur ‘n adviesgroep wat advokaat Terry Motau ingesluit het. Motau en drie ander het egter ontken dat hulle by die proses betrokke was. Ramaphosa het Buti Manamela as die nuwe minister en Nomusa Dube-Ncube as adjunkminister aangestel.
# Die IVP het sy verbintenis herbevestig tot die regering van nasionale eenheid sowel as die regering van provinsiale eenheid in KZN, en belowe om verdeeldheid uit te wis en insluiting te bevorder. Die party se president, Velenkosini Hlabisa, sê dit was ‘n jaar van impak, met vordering in die bekamping van misdaad en die verdediging van Ithala Bank as noodsaaklike element vir die ekonomie in KwaZulu-Natal. Hy doen ‘n beroep op dringende hervormings en ‘n verenigde nasionale poging wat in waardigheid, diens en verantwoordbaarheid gevestig is:
# Die vakbond Solidariteit sê FlySafair sleep hulle voete om die arbeidsgeskil met sy vlieëniers op te los, terwyl hulle voortgaan om die voortgesette uitsluiting te minimaliseer. Die vakbond kritiseer die lugredery dat hulle nie met dringendheid betrokke raak nie, ten spyte van toenemende reisonderbrekings en passasiers se frustrasie. Helgard Cronjé van Solidariteit sê onderhandelings sal eers Woensdag plaasvind al het hulle gevra vir ‘n vroeëre ontmoeting:
# Die Streekshof in Oos-Londen het die vuurwapensaak teen die EFF-leier Julius Malema tot 29 September uitgestel om uitspraak te lewer. Malema en sy medebeskuldigde Adriaan Snyman staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en roekelose bedreiging. Die aanklagte volg ná ‘n EFF-byeenkoms in 2018 waartydens Malema na bewering ‘n geweerskoot afgevuur het. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Luxolo Tyali, het vertroue uitgespreek dat dit ‘n skuldigbevinding sal wees maar die uitspraak berus nou by landdros Twanet Olivier:
# Altesaam 25 lande, insluitend Brittanje, Frankryk, Kanada en Japan, het die moord op burgerlikes en kinders wat kos en water in Gaza soek, veroordeel. Meer as 800 Palestyne is volgens berigte dood terwyl hulle hulp gesoek het, met die meeste sterftes naby hulpsentrums wat bestuur word deur die VSA- en Israel-gesteunde Gaza Humanitarian Foundation. In ‘n verklaring van die Britse ministerie van Buitelandse Sake, sê die lande die Israelse regering se hulpverleningsmodel is gevaarlik, wakker onbestendigheid aan en ontneem die mense van menswaardigheid. Die lande het hul oproep tot ‘n skietstilstand herhaal.
# Rugby: ‘n Reuse-uitdaging wag op die nuutaangestelde hoofafrigter van Wallis, Steve Tandy. Die span het pas ’n reeks van 18 opeenvolgende nederlae beëindig toe hulle Japan geklop het en die voormalige Walliese speler het ‘n reuse-taak wat voorlê om sy span voor te berei vir die volgende Wêreldbekertoernooi oor twee jaar. Tandy vervang Warren Gatland as permanente hoofafrigter nadat die Nieu-Seelander gedwing is om uit te tree gedurende vanjaar se Sesnasies-kompetisie. Tandy se eerste wedstryd in beheer is op 9 November in Cardiff teen Argentinië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-518-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-395-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….