Nuus 06:00
BULLETIN 20 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die bevordering van vroeë onderwys is ‘n gedeelde nasionale verantwoordelikheid
# Thabo Mbeki sê sake uit die apartheidsera moet regsprosesse volg
# En ‘n Keniaanse kultusleier is skuldig bevind aan die moord op 190 kinders
# President Cyril Ramaphosa sê die uitbreiding van toegang tot vroeë onderwys is ‘n ontwikkelingsprioriteit en ‘n manier om geskiedkundige ongelykhede aan te spreek. Hierdie week vind die tweede Bana Pele-leierskapsberaad in Gauteng plaas, wat daarop gemik is om samewerking te mobiliseer en te versterk om vinniger toegang te verseker tot algehele gehalte vroeë onderwys teen 2030. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa die hervormings wat die regering in vroeë onderwys aangepak het, is deel van ‘n breër poging om Suid-Afrika se sosio-ekonomiese argitektuur te vernuwe. Hy sê die bevordering van vroeë onderwys is ‘n gedeelde nasionale verantwoordelikheid.
# Die voormalige president Thabo Mbeki sê apartheids-era-sake moet deur die behoorlike wetlike en grondwetlike prosesse hanteer word. Mbeki het voor die Khampepe-kommissie in Johannesburg getuig en ontken dat daar ‘n algemene amnestie-ooreenkoms of geheime ooreenkomste was om vervolging te beëindig. Hy sê besluite oor vervolging moet berus by die Nasionale Vervolgingsgesag, nie politici nie. Mbeki het ook gewaarsku dat die instelling van ‘n nuwe amnestieproses aanspreeklikheid en die regte van slagoffers kan ondermyn:
# ‘n Forensiese deskundige het in die Kaapstadse Landdroshof gesê volgens ‘n rekonstruksie kon Anele Tembe dalk as gevolg van ‘n aggressiewe stamp na haar dood geval het. Tembe was verloof aan die kletsrymer Kiernan “AKA” Forbes, wat intussen ook dood is, en is in April 2021 dood nadat sy van die tiende verdieping van die Pepperclub-hotel geval het. Tydens die geregtelike doodsondersoek het die forensiese ontleder Jeremy Philander gesê toetse op poppe met dieselfde gewig as Tembe het getoon ‘n harde stamp stem met die bewyse ooreen, maar ‘n gly of ‘n ligte sprong nie.
# Die Wes-Kaapse regering doen ‘n beroep op die nasionale regering om dringend op te tree om die voortdurende tekorte aan medisyne landswyd aan te spreek. Die tekorte hou verband met vervaardigingsprobleme, beperkings by verskaffers, asook vertragings met invoere en die toetsing van medisyne. Die LUR vir Gesondheid en Welstand, Mireille Wenger, sê beter koördinasie tussen nasionale en provinsiale gesondheidsdepartemente is nodig om tekorte te voorkom. Wenger het pasiënte aangeraai om nie hul medikasie te staak of te verander sonder om ‘n gesondheidsdeskundige te raadpleeg nie:
# ‘n Keniaanse Hooggeregshof het die kultusleier, Paul Mackenzie, en 30 medebeskuldigdes skuldig bevind aan die moord op 190 kinders en een volwassene. Aanklaers het aangevoer dat Mackenzie en sy kerk, die Good News International Church, hul volgelinge beveel het om hulself en hul kinders tot die dood te verhonger, sodat hulle voor die einde van die wêreld hemel toe kan gaan. Regter Diana Kavedza-Mochache het tydens die uitspraak gesê Mackenzie en sy medepastore se leerstellings het volgelinge die regeringsbeleid laat verwerp om ‘n uiterste geloofstelsel aan te neem wat basiese menseregte skend. Vonnisoplegging sal op 6 November plaasvind.
# Krieket: Australië is in beheer van die tweede toets, met Suid-Afrika op 95 vir vyf teen die einde van die tweede dag in Gqeberha. Weens swaar reën oornag kon spel gister eers om 15:45 hervat word – ses uur na die geskeduleerde tyd. Die Proteas, wat die tweede dag op 20 vir twee hervat het, het vinnig drie paaltjies verloor, terwyl kaptein Temba Bavuma en Ryan Rickelton ’n vennootskap van 52 om die vyfde paaltjie opgebou het. Sowat 145 boulbeurte is tot dusver weens die weer verloor, maar daar word vir die volgende paar dae slegs minimale reën voorspel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-964-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-136-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 110-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….