Nuus 06:00
BULLETIN 22 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Markus Jooste pleeg na bewering selfdood
# President Ramaphosa sê die integriteit van die verkiesing moet beskerm word
# En beurtkrag word tot 4 uur vanmiddag opgeskort
# Die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste is dood nadat hy na bewering by sy huis in Hermanus in die Wes-Kaap selfdood gepleeg het. Luidens berigte het die 63-jarige homself na bewering gister geskiet, ‘n dag voordat hy en die voormalige regshoof van Steinhoff, Stéhan Grobler, hulself vandag aan die Valke moes oorgee. Jooste se dood kom nadat hy ‘n boete van 475-miljoen-rand opgelê is deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor vir die uitgee van vals en misleidende finansiële state. Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, Malcolm Poje, sê ‘n geregtelike doodsondersoek-dossier is geopen:
# President Cyril Ramaphosa sê die gereeldheid, vreedsaamheid, regverdigheid en integriteit van die land se verkiesing is prestasies wat beskerm moet word. Hy het gister die hoofrede gelewer ter herdenking van Menseregtedag in Sharpeville, Gauteng. Suid-Afrikaners gaan op 29 Mei stembus toe om in die sewende demokratiese verkiesing te stem. Ramaphosa sê dreigemente, intimidasie en ondemokratiese optrede van diegene wat die verkiesingsproses wil ondermyn, sal nie geduld word nie:
# Na ‘n kort verposing het Eskom fase drie-beurtkrag van gisteraand agtuur tot vanoggend vyfuur ingestel. Dit was om die lae damvlakke by die pompopgaar-kragstasies aan te vul. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê beurtkrag is weer opgeskort van vyfuur vanoggend tot vieruur vanmiddag:
# Die Valke-woordvoerder, Thandi Mbambo, het bevestig hulle stel ondersoek in na die bron van fondse wat adjunkpresident Paul Mashatile se skoonseun, Nceba Nonkwelo, verlede jaar gebruik het om ‘n huis van 28,9-miljoen-rand in Constantia, Kaapstad, te koop. Dit volg nadat verskeie opposisieleiers, insluitend John Steenhuisen, strafregtelike sake aanhangig gemaak het. Die ondersoek gaan oor bewerings teen Mashatile en sy familie se gebruik van luukse eiendomme van die staatskaping-beskuldigde en sakepersoon, Edwin Sodi, in Clifton, en ʼn huis in Fresnaye wat aan Ndavhe Mareda behoort. Laasgenoemde het tussen 2016 en 2020 kontrakte met staatsentiteite gehad.
# Tennis: Die Wêreld-tennisvereniging het begin om sy reëls te hersien sodat spelers wat opkikkerklagtes teen hulle gehad het, met spesiale keuring na die spel kan terugkeer. Vrouetennis se beheerliggaam sê hulle oorweeg die veranderinge ná die hoëprofiel-saak van Simona Halep. Die Roemeen het met ʼn promotorsuitnodiging na die Miami Ope teruggekeer nadat die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie haar verbanning van vier jaar tot nege maande verminder het. Spelers wat weens opkikkeroortredings verban word, word nie deur spesiale keuring beskerm nie en moet dikwels hulle loopbane van vooraf bou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-830-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-184-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-48-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Vanjaar se Wêreld-waterdag wil wêreldwyd water gebruik om vrede te bewerkstellig. Die dag beklemtoon die noodsaaklike rol wat vars water in globale stabiliteit en voorspoed speel. Verenigde Nasies Water sê 2,2-miljard mense het nie toegang tot veilige water nie, daarom is vanjaar se fokus op die waterkrisis en om Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 6 teen 2030 te bereik. Die dag beklemtoon ook die belangrikheid van internasionale samewerking om gedeelde waterbronne te bestuur en watersekerheid vir almal te verseker terwyl die uitwerking van klimaatsverandering toeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….