Nuus 06:00
BULLETIN 20 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC sal nie toelaat dat enige party sy handelsmerk steel nie
# Rusland het in Maart 130 missiele en byna 900 bomme in Oekraïne lanseer
# En rugby: Die Junior Springbok Speler van die Jaar vervang Jasper Wiese by die Leicester Tigers
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die regerende party sal nie toelaat dat sy erfenis en handelsmerk gesteel word nie. Die Verkiesingshof in Bloemfontein het gister die ANC se saak teen die Onafhanklike Verkiesingskommissie aangehoor oor die registrasieproses van die pas gestigte uMkhonto weSizwe Party, wat deur oudpresident Jacob Zuma gesteun word. Mbalula sê die kaping van die naam, nalatenskap en simbole van MK, is ‘n doelbewuste poging om verwarring te saai:
Intussen het oudpresident Jacob Zuma sy steun vir uMkhonto we Sizwe herhaal. Zuma het ondersteuners voor die hof toegespreek en sê die saak is ingedien deur een of ander organisasie wat hy eens op ‘n tyd geken het:
# President Cyril Ramaphosa het bevestig ná verskeie vertragings is leefstyloudits van lede van die Uitvoerende Gesag uiteindelik aan die gang. Dit behels bykomende inligting wat by Ramaphosa, adjunkpresident Paul Mashatile, ministers en adjunkministers gekry moes word. Die doel met die oudits is om uitgawes en inkomste te ondersoek wat moontlik kan lei tot verdere ondersoeke indien onreëlmatighede gevind word. Ramaphosa het vrae in die Parlement geantwoord en gesê weens begrotingsbeperkings is kapasiteit in die Kantoor van die Direkteur-Generaal ingerig om hierdie oudits uit te voer, maar daar was vertragings:
# Die EFF in Gauteng is bekommerd oor die provinsie se waterkrisis. Dit volg na ‘n vergadering met amptenare van Rand Water, wat aan die lig gebring het die waterstelsels in die provinsie is op die rand van ineenstorting met ‘n totale watertekort van 30-persent. Die grootmaat-waternutsmaatskappy sê dit is weens hoë verbruik, klimaatsfaktore soos die hittegolf en onbetroubare reënval, en infrastruktuur-kwessies. Met 25-persent varswater wat verlore gaan weens lekplekke moedig die EFF munisipaliteite aan om waterbeperkings in te stel en vra inwoners om water te bespaar.
# Die president van Oekraïne, Volodymyr Zelensky, sê Rusland het dié maand 130 missiele, meer as 320 Shahed-aanvalshommeltuie en byna 900 geleide bomme in Kiev lanseer. Dit volg nadat beide lande hul lugaanvalle verskerp het. Moskou se troepe vorder op die voorste linie en Oekraïne het tans ‘n tekort aan mannekrag en wapens. Zelensky sê Oekraïne het getoon hy is in staat om Russiese terroristemissiele en hommeltuie asook Russiese militêre vliegtuie suksesvol af te skiet. Hy sê egter hulle het steeds meer beskerming nodig.
# Rugby: Die Junior Springbok Speler van die Jaar, Corné Beets sal die Wêreldbeker-kampioen agsteman Jasper Wiese by Leicester Tigers vervang. Wiese het aangekondig hy verlaat die Engelse klub aan die einde van die seisoen, met ‘n skuif na die Franse span Stade Francais op die kaarte. Die 20-jarige Beets, wat by Paarl Gimnasium matrikuleer het, het tydens verlede jaar se Onder-20 Wêreldkampioenskap die aandag getrek en ‘n drie gedruk in die uitspeelwedstryd om die derde plek teen Engeland. Hy sluit aan by Springbok-losskakel Handré Pollard wat ook vir Leicester speel.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-217-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-159-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….