Nuus 06:00
BULLETIN 5 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse ambassadeur beskuldig minister Lamola dat hy hom beledig het
# Die DA eis gedetailleerde misdaadstatistieke oor misdade teen vroue en kinders
# En, die Afrika-unie gaan ‘n Afrika-kredietgraderingsagentskap stig
# Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Bozell, het die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, beskuldig dat hy hom beledig het. Hy sê die Suid-Afrikaanse regering wonder gevolglik waarom betrekkinge verbrokkel. In ‘n gesprek met die Sunday Times het die minister gesê hy was geskok deur Bozell se opmerking dat die tyd vir praat verby is. Hy sê dialoog is die grondslag van ‘n diplomaat se rol. Lamola sê as Bozell moeg is daarvoor om te praat, moet hy liewer vertrek. Hy het die ambassadeur van ondiplomatieke gedrag beskuldig. Dit volg op die derde amptelike protes teen Bozell verlede week.
# Die DA het aan die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, geskryf en geëis dat die komende misdaadstatistieke akkurate, uiteengesette data oor misdade teen vroue en kinders vervat. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa ‘n plan aangekondig het om geslagsgeweld en vrouemoord aan te spreek, insluitend ‘n befondsde plan om forensiese agterstande in te haal en hulpbronne te identifiseer. Lisa Schickerling van die DA sê die regering kan nie hulpbronne behoorlik toewys om hierdie euwel te bekamp nie, wanneer die misdaadstatistieke waarop enige strategie gebou moet word, wesenlik foutief is:
# Die president van die African Congress for Transformation, Ace Magashule, sê die party se manifes vir die plaaslike verkiesing fokus op praktiese oplossings vir uitdagings waarmee gemeenskappe daagliks worstel. Magashule het in Welkom in die Vrystaat, die party se fokus op werkloosheid, basiese dienslewering en onderwys uitgelig. Hy sê die party sal gemeenskappe raadpleeg voor burgemeesters aangewys word in munisipaliteite waar die party aan bewind is. Magashule voer aan mense sonder ‘n matrieksertifikaat moet ook as raadslede kan dien, aangesien kennis van die gemeenskap en lewenservaring geleenthede skep:
# ‘n Nuwe politieke beweging, die Born to Win-party, sal in die Polokwane-munisipaliteit deelneem aan November se plaaslike verkiesing. Die party se president en voormalige ANC parlementslid, Boy Mamabolo, sê die beweging sal sy aandag op korrupsie en dienslewering vestig, veral in Limpopo. Mamabolo sê die helfte van die mense wat deur die party gewerf word, is van landelike gebiede en sal opleiding ontvang om as raadslede te dien. Die party sê hy wil gemeenskappe betrek by sy beleidsvorming en sal fokus op munisipale uitdagings soos watertekorte, slaggate en aanspreeklikheid van plaaslike owerhede.
# Die Afrika-unie is gereed om die Afrika-kredietgraderingsagentskap hierdie week in Port Louis, Mauritius, bekend te stel. Die agentskap sal onafhanklike, Afrika-gerigte beoordelings van regerings, ondernemings en instellings verskaf. Die uitvoerende hoof en ambassadeur van die Afrika-meganisme vir Portuur-evaluering, Marie Antoinette Rose Quatre, skat Afrika se mark op ongeveer 66-duisend-miljard-rand, met minder as vyf-persent van die finansiële instrumente wat tans gegradeer is. Sy het aan die SABC gesê verbeterde graderings kan beleggersvertroue en toegang tot kapitaal versterk:
# Motorsport: Max Verstappen het sy en Red Bull se eerste oorwinning van die seisoen behaal tydens ‘n chaotiese Bahrein Grand Prix wat deur stortreën, ‘n lang vertraging by die wegspring en veiligheidsmotors gekenmerk is. Kimi Antonelli van Mercedes, wat tweede geëindig het, het sy voorsprong in die jaerskampioenskap bo sy spanmaat George Russell tot 84 punte vergroot nadat ‘n enjinfout die Brit vyf rondtes voor die einde uit die wedren gedwing het. Lewis Hamilton van Ferrari was derde, met sy spanmaat Charles Leclerc in die vierde plek, en Isack Hadjar van Red Bull het die voorste vyf afgerond.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-319-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-147-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 105-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….