Nuus 06:00
BULLETIN 11 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP se 13-punt-plan-verkiesingsmanifes beloof hoop en vernuwing
# Die opskorting van beurtkrag gedurende die dag word voortgesit
# En motorsport: Brad Binder eindig tweede in die eerste wedren van die seisoen in Katar
# Die leier van die Inkatha Vryheidsparty, Velenkosini Hlabisa, sê die algemene verkiesing op 29 Mei is die belangrikste sedert die begin van demokrasie. Die party het gister sy verkiesingsmanifes by Durban se Moses Mabhida-stadion bekend gestel. Hy sê die IVP se 13-punt-plan-manifes bied hoop en vernuwing vir almal. Hlabisa sê die land is op die punt om ‘n mislukte staat te word, en die IVP is gereed om ‘n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners te verseker:
Intussen sê Hlabisa, hy is vol vertroue dat indien sy party die regering oorneem, dit beurtkrag kan uitskakel. Hy sê die ernstigheid van die energiekrisis in die land is as gevolg van korrupsie, wanbestuur en ‘n gebrek aan ‘n strategiese visie om die probleem op te los:
# Steeds by beurtkrag: Eskom sê hy sal voortgaan om beurtkrag gedurende die dag op te skort, weens die herstel van noodopwekkingsreserwes, en die herinstelling van drie opwekkingseenhede. Beurtkrag word opgeskort van vyfuur soggens tot vieruur namiddag, waarna fase twee ingestel word. Hierdie skedule sal voortduur tot verdere kennisgewing. Eskom sê hy verwag ook om teen Woensdag drie-duisend-330-megawatt se opwekkingsvermoë te herstel.
# Bekommerde ouers van die Theresapark Secondary School in Pretoria-Noord sê die Gautengse Onderwysdepartement het hulle verseker leerders sal vandag by die nuwe skool gehuisves word. Die skool is verlede jaar as ‘n oorloop-skool in die vooruitsig gestel, maar was sedert die begin van die jaar onvoltooid. Dit het daartoe gelei dat leerders twee keer per week op rotasie in houer-klaskamers moet skoolgaan. Thabo Qoako van die ouers se taakspan sê hulle sal die skool vandag besoek:
# Ghana se ministerie van Finansies het president Nana Akufo-Addo afgeraai om die omstrede wetsontwerp teen LGBTQ-plus-regte goed te keur. Die departement waarsku dit kan daartoe lei dat die land 70-miljard-rand aan Wêreldbankfondse verloor. Die wetsontwerp, wat onlangs deur wetgewers goedgekeur is, sal LGBTQ-plus-regte beperk. In ’n vertroulike dokument word gewaarsku, die wetsontwerp sal Ghana se ekonomiese herstelpogings negatief raak. Die wetsontwerp wag op ‘n presidensiële besluit te midde van internasionale teenkanting en plaaslike politieke mening voor die verkiesing in Desember.
# Motorsport: Die Suid-Afrikaner Brad Binder het tweede geëindig vir die MotoGP-span, Red Bull KTM Factory Racing, in die seisoen se eerste wedren in die Katar Grand Prix. Die heersende wêreldkampioen van Italië en Ducati-ryer, Francesco Bagnaia, het met die wegspringslag die voorste plek opgeëis en tot die einde toe daar gebly om die wedren te wen. Die Spanjaard Jorge Martin van Pramac Racing was derde. Bagnaia is boaan die wêreldranglys met 31, gevolg deur Binder in die tweede en Martin in die derde plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-en-28-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-179-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….