Nuus 06:00
BULLETIN 8 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel beskuldig Suid-Afrika daarvan dat hy Hamas se regsgesant is
# President Ramaphosa waarsku teen ontwrigting tydens die verkiesing
# En laastens, vandag is Internasionale Vrouedag, ‘n hernude beroep op geslagsgelykheid
# Israel het Suid-Afrika beskuldig hy buit die Internasionale Geregshof uit om Hamas te help. Die twee lande was weer in die Hof in Den Haag in Nederland, waar Suid-Afrika ‘n dringende aansoek ingedien het vir die versterking van die voorlopige maatreëls wat in Januarie teen Israel beveel is. Israel sê Suid-Afrika gaan voort om as Hamas se regsgesant op te tree in ‘n poging om Israel se inherente reg te ondermyn waarvolgens hy homself en sy burgers kan verdedig en al sy gyselaars bevry.
# President Cyril Ramaphosa het ‘n streng waarskuwing uitgereik teen moontlike ontwrigting tydens die komende algemene verkiesing. Te midde van kommer deur sommige politieke partye oor burgerlike onluste indien hulle name nie op die stembriewe is nie, het Ramaphosa beklemtoon sulke opruiende gedrag sal Suid-Afrikaners hulle reg om te stem ontneem. Hy vra ernstige gevolge vir indiwidue wat hulle skuldig maak aan sulke gedrag:
# Build One South Africa sê die komende algemene verkiesing is deurslaggewend omdat dit die land se koers vir dekades gaan bepaal. Die party het met sukses ‘n plek op alle stembriewe vir die verkiesing op 29 Mei verseker, en meer as 140-duisend handtekeninge ter ondersteuning gekry. BOSA se leier, Mmusi Maimane, sê die ANC klou skaars vas aan mag terwyl hulle stry en steel. Hy sê die land het passievolle, opgeleide en etiese leiers aan bewind nodig om die land se toekoms te verander.
# Gauteng se Departement van Gesondheid sê verskeie gesondheidsgeriewe, wat die Rahima Moosa Moeder- en Kind-hospitaal, die Helen Joseph-hospitaal, die Zola-gemeenskapsgesondheidsentrum en die Dr Yusuf Dadoo-hospitaal insluit, ondervind wateronderbrekings weens uitdagings by water-nutsmaatskappye. Johannesburg Water het tenkwaens uitgestuur, maar die voorraad bly onvoldoende. Die hospitale het maatreëls ingestel om die situasie te bestuur, onder meer die wegwys van noodgevalle en kritieke-sorg-pasiënte na ander geriewe. Die woordvoerder van die departement, Motalatale Modiba, het verskoning gevra vir die ongerief:
# Motorsport: Die Red Bull Formule Een-span se beheermaatskappy het die vrou geskors wat sy spanbaas Christian Horner van onvanpaste gedrag beskuldig het. Dit volg nadat hy in ‘n onlangse interne ondersoek vrygespreek is. Horner het volgehou hy is onskuldig. Die vrou is blykbaar met volle betaling geskors, maar die maatskappy is nie bereid om die amptelike rede vir die besluit bekend te maak nie. Horner is op die oomblik in Saoedi-Arabië vir die naweek se tweede wedren van die seisoen in Jeddah.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-en-1-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-25-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Vandag is Internasionale Vrouedag, ‘n dag om gesamentlik opnuut na geslagsgelykheid te kyk. Vanjaar se tema is Belê in Vroue: Versnel die Proses. Die Verenigde Nasies Vroue waarsku indien die huidige situasie voortduur, sal meer as 342-miljoen vroue en meisies teen 2030 in uiterste armoede lewe. VN Vroue se uitvoerende direkteur, Sima Bahou sê as daar in vroue belê word, sal die oorgang na ‘n gesonder, veiliger en meer gelyke wêreld vir almal bespoedig word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….