Nuus 06:00
BULLETIN 6 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Build One SA beskuldig die ANC dat hy werksgeleenthede verwoes
# Die Nasionale Vervolgingsgesag prioritiseer Waarheids- en Versoeningskommissie-sake
# En, rugby: Kolbe kan tot ses weke uit wees met ‘n handbesering
# Build One South Africa sê dis duidelik die ANC-regering kan nie die ekonomie bestuur en hervormings instel wat ware groei aan die gang sit nie. Suid-Afrika se ekonomie het in die vierde kwartaal verlede jaar met ‘n skamele 0,1-persent gegroei. Ses van die tien nywerhede insluitend die mynbedryf het die ekonomie in die groen gehou. Handel en landbou is van die sektore wat die swaarste getref is. BOSA se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, sê dit wys die ANC se sentrale rol as vernietiger van werksgeleenthede:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy aanvaar oudpresident Thabo Mbeki se onlangse verklaring. Woordvoerder Mthunzi Mhaga, sê die NVG bevestig sy verbintenis om sake van die Waarheids-en-versoeningskommissie te ondersoek en te vervolg. Mhaga sê in weerwil van uitdagings het die NVG vordering gemaak met 137 sake wat vir ondersoek geregistreer is. Hiervan is 21 sake met ’n besluit afgehandel, en tien is op die hofrol. Mhaga het verseker daar sal aanspreeklikheid wees vir misdade wat verband hou met die Waarheid- en Versoeningskommissie, asook die prioritisering van slagoffers se belange.
# Adjunkpresident Paul Mashatile, is sy rol as leier van regeringsake, verwelkom die vordering wat in die eerste kwartaal van die jaar gemaak is met die finalisering van sleutelwetsontwerpe deur die Nasionale Vergadering. Dit sluit in die Wysigingswetsontwerp oor Openbare Administrasiebestuur en die Wysigingswetsontwerp oor Algemene Intelligensiewette. Dié staatsdienswetsontwerpe is nou by die Nasionale Raad van Provinsies vir oorweging, terwyl ander na spesifieke parlementêre komitees verwys is. Mashatile het die vertroue uitgespreek dat alle prioriteitswetgewing deurgevoer sal word en uiteindelik wette van die Republiek sal word.
# Die DA in Ekurhuleni het ‘n mosie van wantroue ingedien teen die speaker van die raad, Nthabiseng Tshivhenga van die EFF. Die DA sê sy het haar pligte versuim. Die stadsraad het verlede week tydens ‘n sitting in chaos ontaard toe die ANC met die EFF handgemeen geraak het. Dié twee partye is in ‘n regerende koalisie. Raymond Dhlamini van die DA sê die geweld wat onder Tshivhenga se toesig in die raad uitgebreek het, ontbloot die partye se agendas:
# Die Wêreldhof het inhegtenisnemingslasbriewe uitgereik vir twee hooggeplaaste Russiese militêre leiers vir beweerde oorlogsmisdade in Oekraïne. Luitenant-generaal Sergei Ivanovich Kobylash en admiraal Viktor Sokolov word daarvan beskuldig dat hulle tussen Oktober 2022 en Maart verlede jaar verantwoordelik was vir ‘n missielveldtog gerig op die Oekraïense energie-infrastruktuur. Die hof sê hulle is verantwoordelik vir oorlogsmisdade deur regstreekse aanvalle op burgerlikes, met buitensporige negatiewe gevolge vir hul slagoffers en dit kom neer op ‘n misdaad teen die mensdom.
# Rugby: Die dubbele Wêreldbeker-wenner en Springbok-vleuel, Cheslin Kolbe, kan tot ses weke lank buite aksie wees vir sy Japanse span. Hy het ‘n handbesering opgedoen terwyl hy vir Suntory Sungoliath gespeel het, en dra tans ‘n handstut. Suntory is tans derde in die Japanse topliga. Kolbe behoort betyds fiks te wees vir die begin van die Bokke se internasionale seisoen teen Wallis op 22 Junie op Twickenham in Londen, maar hy is nie deel van die week se belyningskamp in Kaapstad nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-681-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-126-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….