Nuus 06:00
BULLETIN 18 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid is steeds verenig
# Bantu Holomisa sê daar is geen eksterne bedreigings teen Suid-Afrika nie
# En die MK-party gaan vandag in Pretoria opruk
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid bly steeds gebonde daaraan om saam te werk, ondanks verskille tussen lede. Hy het tydens sy antwoord op die Presidensie se begrotingsdebat erken dat die teenwoordigheid van uiteenlopende oogpunte binne die RNE normaal is binne ‘n veelparty-demokrasie. Ramaphosa sê die RNE is gefokus op dienslewering, om die lewe van alle burgers te verbeter en vertroue in die regering te herwin:
Ramaphosa sê ook miljarde rande is verhaal in staatskapingsvervolgings, ‘n aanduiding van vordering met die herstel van aanspreeklikheid en vertroue in regeringsinstellings. Ramaphosa het die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid se pogings geprys om korrupte individue te vervolg en gesteelde openbare fondse terug te eis. Hy sê geld wat verhaal is, sal gebruik word om dienslewering te ondersteun en instellings te herbou wat deur korrupsie geraak is:
# Die adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane, Bantu Holomisa, sê daar is op die oomblik geen eksterne bedreiging teen die land nie. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het die week onthul die veiligheidsgroepering het ‘n risiko van ‘n staatsgreep geïdentifiseer. Sy het gesê die Nasionale Veiligheidstrategie en Nasionale Intelligensieraming het ander risiko’s, insluitend terrorisme en gewelddadige ekstremisme, gevind. Holomisa sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is ten volle in staat om die land teen enige ernstige bedreiging te verdedig:
# Die Metropolisie in Tshwane sê verskeie strate, insluitende Paul Krugerstraat, Madibastraat, en Nelson Mandela-rylaan in Pretoria sal vandag geraak word deur ’n MK-optog. Die optog na die Uniegebou is ter ondersteuning van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, en vra vir die aanhouding van diegene wat by politieke inmenging in polisiewerk geïmpliseer word. Polisie sal ontplooi word om die optog te monitor en openbare veiligheid te verseker.
# Oekraïne het ‘n nuwe regering aangestel onder leiding van die eerste nuwe eerste minister in vyf jaar, met die taak om binnelandse wapenproduksie te bevorder en Oekraïne se lening-afhanklike ekonomie te laat herleef. Die 39-jarige Yulia Svyrydenko het van plaaslike politiek tot adjunkminister gevorder, was daarna minister van Ekonomie en is nou eerste minister. Haar kabinet sluit twee van haar voormalige adjunkte in – Oleksiy Sobolev is die minister van Ekonomie, Landbou en die Omgewing, en Taras Kachka is die adjunk- eerste minister vir Europese Integrasie. Haar voorganger is Denys Shmyhal, die nuwe minister van Verdediging.
# Rugby: Die Springbok-flank Kwagga Smith glo die Bulle se nuwe hoofafrigter, Johan Ackermann, is die regte man vir die taak. Die gewese Leeus-breier is Woensdag aangewys as Jake White se opvolger. White is vroeër die maand weg na gerugte van ‘n paleis-rewolusie onder spelers en hulpafrigters. Smith, wat deur Ackerman by die Leeus afgerig is, sê hy is ‘n briljante breier met die vermoë om ‘n groep spelers saam te bind vir ‘n gesamentlike doelwit. Hy glo Ackermann sal ‘n baie geslaagde loopbaan in Pretoria hê.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-585-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….