Nuus 06:00
BULLETIN 18 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nomvula Mokonyane sê die ANC vra vir ‘n geïntegreerde benadering teen geslagsgeweld en vrouemoord
# ‘n Derde vrou wat langs die R-21 in Kemptonpark gevind is, is uitgeken
# En, Mark Carney sê hy wil bande met die EU versterk vir groter onafhanklikheid
# Die ANC se eerste adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, sê hulle vra gereeld vir gesamentlike optrede om geslagsgeweld en vrouemoord die hoof te bied, en om gemeenskappe te bou waar vroue en kinders vry van vrees en geweld kan leef. Sy het die families besoek van Elizabeth Moselakgomo, Dineo Motapane en Itumeleng Kekana, wat deel is van die nege vroue wat in Ekurhuleni vermoor is. Mokonyane sê wetstoepassingsagentskappe moet hul vermoëns verbeter, veral wat betref intelligensie, die toepassing van die wet en ‘n geïntegreerde benadering tot die hantering van geslagsgeweld en vrouemoord:
Intussen het die familie van die 28-jarige Gracious Nkomo haar positief uitgeken as een van die vroue wie se liggame verlede week langs die R-21 in Kemptonpark gevind is. Sy was die derde vrou wat in die gebied gevind is. Dit volg terwyl die polisie voortgaan om die dood van nege vroue reg oor die Oos-Rand te ondersoek. Die polisie het nou vier vroue in die Ekurhuleni-ondersoek formeel uitgeken. Die waarnemende Nasionale Polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê ‘n multidissiplinêre span ondersoekers probeer die omstandighede rondom die moorde vasstel en die verantwoordelikes identifiseer.
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, dring aan die eienaars van die Lily-myn in Mpumalanga moet verantwoordelikheid aanvaar vir die herwinning van die houer en die liggame van die mynwerkers wat in die ramp van 2016 omgekom het. Mantashe het die beraad oor mynveiligheid en -gesondheid in Kemptonpark, Gauteng, toegespreek en gesê myneienaars kan nie voordeel trek uit mynbedrywighede en verantwoordelikheid ontduik wanneer rampe gebeur nie, en dan verwag die regering moet verantwoordelikheid aanvaar. Hy sê die herwinning van die liggame is belangrik om afsluiting aan die naasbestaandes te bied.
# Navorsing deur die Universiteit van Johannesburg se Sentrum vir Maatskaplike Ontwikkeling in Afrika het bevind maatskaplike toelaes word hoofsaaklik vir noodsaaklike huishoudelike behoeftes gebruik, maar kan ook produktiewe lewensbestaans-aktiwiteite ondersteun. Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, sê die navorsing het bevind dat die Maatskaplike Noodverligtingstoelaag van 370-rand verbind word met ‘n toename van 25-persent in die waarskynlikheid dat mense vir werk soek. Die bevindinge beklemtoon die potensiële rol van maatskaplike bystand in die ondersteuning van huishoudings en pogings om werk te verkry.
# Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, sê ‘n nouer vennootskap met Europa is daarop gemik om veerkragtigheid te skep eerder as selfvoorsiening. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het voorgestel dat Kanada die blok se eerste assosiaatlid word – ‘n status wat tans nie bestaan nie. Die EU en Kanada het reeds ‘n vryhandelsooreenkoms en werk saam op gebiede soos handel, verdediging en navorsing. Carney het aan die Europese Parlement gesê dit is ‘n geleentheid om Kanada sterker, meer soewerein en onafhanklik te maak:
# Krieket: Miané Smit se eerste T20-honderdtal het die Suid-Afrikaanse vrouespan na ‘n oortuigende oorwinning van 80 lopies teen Zimbabwe in Bulawayo gelei en hul reeksvoorsprong tot 4-0 vergroot. Smit, wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, het 102 lopies van 59 balle aangeteken en die Proteas gehelp om ‘n totaal van 205 vir vier te bereik. Zimbabwe is tot 125 vir vyf beperk, met Caitlin Wyngaard wat twee paaltjies geneem het. Suid-Afrika sal Saterdag in die vyfde en laaste T20-wedstryd wil skoonskip maak in die reeks.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-26-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-333-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-344-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 104-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….