Nuus 06:00
BULLETIN 1 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dreig met regstappe oor die ANC se skuldooreenkoms met Ezulweni Investments
# Vladimir Putin waarsku teen ‘n kernoorlog indien NAVO-lande troepe na Oekraïne stuur
# En rugby, Belastingbetalers dra die 1.3-miljoen-rand-rekening vir die Wêreldbeker-superondersteuners se reise
# ActionSA vra die Onafhanklike Verkiesingskommissie moet die ANC se geldsake dringend ondersoek. Dit volg op onthullings dat die ANC net skenkings van tien-miljoen-rand verklaar het, terwyl hy skuld van 102-miljoen-rand met Ezulweni Investments gedelg het. Die party betoog die verklaarde skenkings is nie genoeg om die skuld en die rente daarop te dek nie, wat dui op moontlike nie-voldoening aan die Wet op Partybefondsing. Michael Beaumont van ActionSA hou vol die OVK moet vinnig optree vir deursigtigheid en aanspreeklikheid met politieke party-befondsing:
# Die Departement van Gesondheid sê hy het die reg om voort te gaan met planne om die openbare gesondheidstelsel te verbeter ten einde aan die behoeftes en eise van die bevolking te voldoen. Dit volg nadat die Gautengse Hooggeregshof Solidariteit se aansoek van die hand gewys het om die departement se tak vir die Nasionale Gesondheidsversekering te skrap. Die vakbond het aangevoer die tak moet eers gestig word nadat die NGV-wetsontwerp onderteken is. Die departement sê die hofuitspraak stel hom in staat om voorbereidings te tref vir die ontplooiing van die NGV.
# Oproepe vir verbeterde samewerking tussen die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag het op die Nasionale Konferensie oor die Geïntegreerde Strafregstelsel in Boksburg na vore gekom. Die konferensie was daarop gemik om die land se wetsraamwerk te versterk. Gareth Newham van die Instituut vir Sekerheidstudies beklemtoon ‘n behoefte aan vroeë aanklaerbetrokkenheid by ingewikkelde misdade om bewyse-gapings aan te pak. Die NVG het tussen 2018 en 2019 geweier om 53-persent van sake te vervolg, dikwels weens onvoldoende bewyse.
# Eskom in Gauteng sê hy gaan van vandag af weer regstreekse beheer oorneem oor beurtkrag vir kliënte in Ekurhuleni weens die stad se herhaalde nie-voldoening aan regulasies. Dit volg nadat die metro nie sy lading verminder het soos vereis word deur die praktykkode nie. Eskom se woordvoerder, Amanda Qithi, vra alle kragverbruikers om te help met die vermindering van die lading deur nie-noodsaaklike en hoëverbruik-toerusting af te skakel om druk op die nasionale netwerk te verlig:
# Die Russiese president Vladimir Putin het Westerse lande gewaarsku om nie troepe na Oekraïne te stuur nie, omdat dit ‘n kernoorlog kan ontketen. Verskeie lidlande van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, soos Amerika, Duitsland en Brittanje, is gekant teen die ontplooiing van grondmagte in Oekraïne. Putin het in sy jaarlikse staatsrede gesê hy sal sy westelike grens militêr versterk om NAVO-teenwoordigheid te neutraliseer. Dit volg nadat Finland en Swede by die alliansie aangesluit het ná die Russiese inval in Oekraïne.
# Rugby: Belastingbetalers het meer as 1,3-miljoen-rand betaal vir die reis en verblyf van die superondersteuners Mama Joy Chauke en Botha Msila tydens verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk. Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het die inligting verskaf aan die burgerregtegroep AfriForum, wat dit aangevra het ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. AfriForum se veldtogbeampte, Charné Mostert, sê sekere besonderhede oor die ondersteuners se volle besteding is steeds nie bekendgemaak nie:
# En ten slotte die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-16-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-457-dollar-17-sent. Die prys van goud is twee-duisend-44-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….