Nuus 06:00
BULLETIN 17 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is weens gesondheidsprobleme vrygestel van openbare verpligtinge
# Die DA voeg 500-duisend-rand by die beloningsgeld in Ekurhuleni
# En rugby: Die Springbok-vrouespan bring veranderinge aan vir die kragmeting teen Wallis
# President Cyril Ramaphosa is weens gesondheidsprobleme vrygestel van openbare verpligtinge. Die Presidensie sê sy mediese span hom aangeraai om te rus en te herstel nadat hy Maandag van die BRICS-beraad in Indië teruggekeer het. Volgens die Presidensie het die president, waar moontlik, die betrokke ministers gevra om hom by geskeduleerde openbare geleenthede te verteenwoordig. Intussen het adjunkpresident Paul Mashatile, wat ‘n geringe mediese prosedure ondergaan het, aangedui dat sy herstel goed vorder. Dit is egter nog onduidelik wanneer hy sy pligte sal hervat.
# Die DA het ‘n bykomende kontantbeloning van 500-duisend-rand aangebied vir inligting wat kan help met die ondersoek na die dood van agt vroue in Kemptonpark, Ekurhuleni. Die polisie het reeds ‘n kontantbeloning van 400-duisend-rand aangebied. Twee van die agt liggame is geïdentifiseer, terwyl die identiteit van die oorblywende ses slagoffers steeds onbekend is. Die DA-burgemeesterskandidaat vir Ekurhuleni, Khathutshelo Rasilingwane, sê enigiemand met inligting moet na vore kom om die polisie te help om strafregtelike vervolging te verseker:
Build One South Africa vra intussen weer dat die register van seksuele oortreders vir die publiek toeganklik gemaak behoort te word, onderhewig aan gepaste wetlike waarborge. BOSA voer aan gemeenskappe het ‘n reg wanneer dit kom by openbare veiligheid om te weet of persone wat aan seksuele misdrywe skuldig bevind is, in hul midde woon of werk, veral in omgewings waar kinders en ander kwesbare persone betrokke is. Die party se adjunkleier, Nobuntu Hlazo-Webster, sê die dood van vroue in Ekurhuleni mag nie bloot nog ‘n statistiek word nie:
# AfriForum sê regulasies wat toelaat dat sekere rybewyse vir tien jaar geldig is, moet sonder versuim in werking gestel word. Die burgerregte-organisasie ondersteun die voorgestelde veranderings maar wil hê die verlengde geldigheid moet van toepassing wees op alle lisensiekategorieë, insluitend swaarvoertuiglisensies, wat andersins vir vyf jaar geldig sou wees. Louis Boshoff van AfriForum sê die verlengde geldigheidstydperk moet geïmplementeer word terwyl ander bestuurslisensie-uitdagings, insluitend lisensiekaart-agterstande, aangespreek moet word:
# Minstens 21 mense, waaronder elf kinders, is dood nadat ‘n gebou wat deur Israelse aanvalle beskadig is, in Gazastad ineengestort het. Daar word gevrees dat nog tientalle mense onder die puin vasgekeer is. Ongeveer 100 daklose Palestynse gesinne het in die gebou van verskeie verdiepings wat deur bomaanvalle verwoes is ‘n heenkome gevind. Sowat 1,9-miljoen Palestyne in Gaza is tydens die oorlog dakloos gelaat. Die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram het gewaarsku dat ongeveer 400 ander geboue in Gaza wat deur die oorlog beskadig is, ‘n onmiddellike risiko inhou om ineen te stort, veral met die naderende winter.
# Rugby: Die Springbok-vroue sal môre in hul openingswedstryd van die W-15 Global Series teen Wallis op Cardiff Arms Park uitdraf met ‘n gewysigde agterlyn en een verandering onder die voorspelers. Logan Welman begin in die nommer 8-trui in die plek van Aseza Hele, wat op die bank sal wees. Onder die agterspelers begin Felicia Jacobs as skrumskakel saam met losskakel en onderkaptein Libbie Janse van Rensburg. Maceala Samboya is terug in die span as buitesenter en Maria Tshiremba as vleuel. Die afskop is om 8:15 namiddag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-688-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-273-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 106-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….