Nuus 06:00
BULLETIN 29 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Pravin Gordhan stel Michelle Phillips aan as nuwe uitvoerende hoof van Transnet
# Daar is agt kandidate op die kortlys vir die posisie as Adjunk- Openbare Beskermer
# En netbal, die nuwe Protea-afrigter wil die Wêreldbeker wen
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het Michelle Phillips as Transnet se nuwe uitvoerende hoof aangestel. Phillips, wat meer as 20 jaar se ondervinding by die staatsonderneming het, was tot nou die waarnemende uitvoerende hoof nadat verskeie senior personeellede verlede jaar bedank het. Gordhan het terselfdertyd Nosipho Maphumulo as Transnet se hoof finansiële beampte aangestel. Die departement se woordvoerder, Ellis Mnyandu, sê die minister is vol vertroue dat hierdie aanstellings strategiese leiding sal bied om met hervormings voort te gaan:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê dringende stappe word gedoen om die veiligheid van Suid-Afrikaanse Polisiedienspersoneel by die hoofkantoor in Pretoria te prioritiseer. Dit volg ná ‘n verbodskennisgewing by die SAPD-Telkomtoring nadat personeel opdrag gegee is om te ontruim weens geïdentifiseerde tekortkominge. Hierdie pro-aktiewe maatreël verseker sake-bestendigheid, aangesien ondersteuningsafdelings na ander persele verskuif is. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle werk aktief saam met die Departement van Openbare Werke om die nodige herstelwerk te doen:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste het agt kandidate op ‘n kortlys geplaas vir die posisie van Adjunk- Openbare Beskermer nadat 46 aansoeke ontvang is. Die onderhoude is geskeduleer vir 12 Maart en minstens 50-persent van die kandidate moet vroue wees. Die persoon, wat aangestel word deur die president op aanbeveling van die Nasionale Vergadering, dien vir ‘n termyn van tot sewe jaar, wat eenmalig hernu kan word. Vereistes sluit in tien jaar se regservaring. Die pos het vakant geraak toe Kholeka Gcaleka in November aangestel is as Openbare Beskermer.
# Prins Harry het sy hofsaak verloor teen die Britse regering se besluit om sy polisiebeskerming weg te neem wanneer hy in die Verenigde Koninkryk is. Sy polisiebeskerming word deur belastingbetalers befonds. Die Departement van Binnelandse Sake het in Februarie 2020 besluit om die hertog van Sussex minder beskerming te bied, omdat hy nie meer ‘n werkende lid van die koninklike familie is nie. Harry se prokureurs het aangevoer die besluit beteken dat hy uitgesonder en benadeel word. Hy gaan teen uitspraak appelleer.
# Netbal: Die pas aangestelde Protea-hoofafrigter, Jenny van Dyk, sê haar doelwit is om ‘n wenspan te bou. Sy het ‘n vierjaarkontrak en sal die span na die 2027 Wêreldbeker-toernooi in Australië lei. Van Dyk sal deur die voormalige Protea-kaptein en Maties-afrigter Zanele Mdodana bygestaan word. Haar eerste opdrag is om ‘n groep van 30 spelers te kies en die nasionale span te finaliseer. Van Dyk sê haar droom is om ‘n Wêreldbeker te wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-386-dollar-17-sent. Die prys van goud is two-duisend-36-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte, ‘n opname deur die Flight Centre-reisgroep het bevind 63-persent van Suid-Afrikaners reis oorsee op soek na liefde. Nieu-Seelanders is tweede, op 59-persent. Flight Centre se plaaslike besturende direkteur, Euan McNeil, meen Suid-Afrikaners se avontuurlustige gees en toeganklikheid dra by tot hierdie neiging. Hy sê die wêreld se uiteenlopende kulture en landskappe is die ideale omgewings om betekenisvolle verhoudings te smee.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….