Nuus 06:00
BULLETIN 16 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie vind die liggaam van ‘n agtste vroulike slagoffer in Ekurhuleni
# Ian Cameron eis antwoorde oor die vertraging in die Sky-ondersoek
# En krieket: Wolvaardt lei die Protea-vroue na ‘n T20-reeksorwinning teen Zimbabwe
# Die polisie het nog ‘n liggaam in Ekurhuleni gevind, wat die getal vroueliggame wat die afgelope twee maande in die metro ontdek is, op agt te staan bring. Die ministerie van Polisie het ‘n beloning van 400-duisend-rand uitgeloof vir inligting wat tot inhegtenisnemings kan lei. Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die moorde op die agt vroue is onaanvaarbaar en het die betrokke families en die publiek verseker dat alles in die stryd gewerp sal word om die skuldiges voor die gereg te bring:
Intussen het die burgemeester van Ekurhuleni, Nkosindiphile Xhakaza, kommer uitgespreek oor die vrees in gemeenskappe wat die oorhand kry en gesê die moorde op vroue in en om die metro het ‘n krisispunt bereik. Speurders en gespesialiseerde polisiespanne ondersoek moontlike verbande tussen die sake. Xhakaza het die noodsaaklikheid van omvattende reaksie beklemtoon en uitgebreide dekking deur videokameras en beter instandhouding van openbare gebiede belowe:
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê Suid-Afrika moet onderskeid tref tussen ambisie en die werklike implementering in sy groenwaterstofprogram. Tydens sy voordrag by die Africa Green Hydrogen Summit in Kaapstad het Ramokgopa beklemtoon prioriteitstatus beteken nie ‘n projek is reeds in aanbou nie. Hy sê insluiting by die National Green Hydrogen Deal Book is nie dieselfde as om finansiële belegging te verseker nie. Hy bepleit deursigtige verslagdoening om beleggersvertroue te behou:
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, sê hy wag steeds vir ‘n ondersoekbeampte om aangewys te word nadat hy ‘n saak geopen het oor die voormalige polisiehond Sky. Cameron sê Sky het ernstige beserings opgedoen in die Roodeplaat-dierehospitaal in Pretoria en is verlede week van kant gemaak. Hy vra ook dat amptenare wat moontlik by die saak betrek word, onthef word van diereversorgingspligte. Cameron het die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat versoek om ‘n onafhanklike ondersoek te oorweeg.
# President Donald Trump het die Hooggeregshof se besluit gekritiseer om sy plan te blokkeer om posstemme te beperk voor die November-middeltermynverkiesing. Hy het in Maart ‘n uitvoerende bevel onderteken wat die Amerikaanse Posdiens gelas om stembriewe slegs aan Amerikaanse burgers af te lewer, met die argument dat die reëlverandering verkiesingsbedrog sal bestry. Regter Brett Kavanaugh, wat deur Trump aangestel is, het aangevoer die reël sal in die komende verkiesing arbitrêr wees. Trump sê op Truth Social die Hooggeregshof het die land in die steek gelaat.
# Krieket: Die Protea-vroue het ‘n oorwinning van 80 lopies teen Zimbabwe in die derde T20-wedstryd in Bulawayo behaal en sodoende ‘n onoorwinlike voorsprong van 3-0 in die reeks van vyf wedstryde geneem. Kaptein Laura Wolvaardt het ‘n onoorwonne 126 lopies aangeteken, die hoogste telling ooit deur ‘n Protea-vrouekrieketspeler in T20-krieket. Sy is nou gelyk met Indië se Smriti Mandhana vir die meeste internasionale honderdtalle naamlik 18. Sy deel ‘n vennootskap van 173 lopies met Karabo Meso en Meso dra 50 onoorwonne lopies by, met die Proteas op 200 vir een. Zimbabwe vir 120 lopies uitgehaal, met Annerie Dercksen wat vyf paaltjies geneem het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-669-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-293-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 109-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….