Nuus 06:00
BULLETIN 28 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kiesers word gewaarsku oor foutiewe inligting voor die verkiesing
# Die Franse president sê die stuur van troepe om Oekraïne te help, is nie uitgesluit nie
# En rugby, Springbok-ondersteuners kan Maandag begin kaartjies koop vir ‘n aantal tuistoetse
# REAL411 waarsku oor foutiewe inligting voor die verkiesing, en het die gevare beklemtoon wat waninligting vir die demokrasie inhou. Die organisasie raai burgers aan om nuusbronne se geloofwaardigheid na te gaan. Die Verkiesingskommissie, in vennootskap met groot platforms soos Google en TikTok, mik ook daarna om foutiewe inligting te voorkom en het sy verbintenis tot demokratiese prosesse herhaal. Real411 sê meer pro-aktiewe stappe kan teen waninligting geneem word en moedig partye aan om nie foutiewe inligting tydens hul veldtogte deur te gee nie.
# Die DA sê Suid-Afrika ervaar ‘n krisis met die diefstal van elektrisiteits-infrastruktuur, wat lei tot verskerpte beurtkrag. Volgens die Departement van Openbare Ondernemings se skriftelike antwoord op die party se parlementêre vraag, is meer as 44-duisend sake van diefstal en opsetlike beskadiging tussen 2018 en verlede jaar aangemeld, wat gemiddeld 24 voorvalle per dag verteenwoordig. Die DA-lid, Mimmy Gondwe, sê ondanks die minister van Polisie, Bheki Cele, se taakspanne, lyk dit of die regering die stryd teen elektrisiteits-infrastruktuur-misdadigers verloor, wat ‘n winsgewende swart mark aanvuur:
# Die Instituut vir Sosio-ekonomiese Regte doen ‘n oproep vir nuwe strategieë vir middestad-herlewing. Die instituut voer aan om armes uit vervalle geboue te jaag is nie die regte manier om die infrastruktuur in ‘n middestad op te gradeer nie. Nomzamo Zondo van die instituut sê stede moet daarna streef om saam met die burgerlike samelewing te werk en middestede weer te herstel in skoner, veiliger en moderner gebiede:
# Werknemers van die Universiteit van Pretoria wat aan Nehawu behoort sê hulle gaan voort om oor salarisverhogings te betoog. Die vakbond eis ‘n bo-inflasie-verwante verhoging van sewe-persent terwyl die universiteit slegs vier-persent aanbied. Die universiteit het ‘n hofbevel verkry, wat die stakende werkers verhoed om gewelddadig op te tree. Hiervolgens mag hulle nie studente keer om klasse by te woon nie en ook nie eiendom beskadig nie. Nehawu het die universiteit se aansprake van ontwrigting en vandalisme ontken en sê baie studente is in solidariteit met die stakende werkers.
# Die Franse president Emmanuel Macron sê die stuur van Europese troepe om Oekraïne te help om die oorlog teen Rusland te wen, kan nie uitgesluit word nie. Kiëv pleit vir meer Westerse hulp, veral wapens, om die toenemende Russiese aanvalle te probeer stuit. Moskou het na ‘n maandelange dooiepunt weer grondgebied in die ooste van Oekraïne ingepalm. Macron sê Rusland moet verslaan word om vrede en veiligheid in Europa te verseker. Hy voeg by ‘n nuwe koalisie moet gevorm word om Oekraïne van medium- en langafstandmissiele te voorsien.
# Rugby: Kaartjies vir die Springbokke se tuistoetse teen Ierland, Portugal en Argentinië, sal vanaf Maandag te koop wees. Die heersende wêreldkampioen pak Ierland op die sesde Julie op Loftus Versfeld, en ‘n week later in Durban voordat hulle die 20ste Julie in Bloemfontein teen Portugal te staan kom. Kaartjiepryse begin teen 350-rand. Pryse vir die toets teen Argentinië in Mbombela op 28 September begin teen 150-rand. Besonderhede van die twee toetse teen die All Blacks op Ellispark en in Kaapstad moet nog bevestig word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-en-6-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-31-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….